Emma en die Creepy Komplot. Marianna BrandtЧитать онлайн книгу.
“Ek sal. Juffrou is op my vloer. Ek gaan gou vir Janine roep om my te help.” Sy wil nie hê juffrou Hasendal moet haar dun bene op daardie hoëhakke breek as sy die swaar tasse opdra kamer toe nie.
“Is hier nie ’n portier nie?” vra sy.
“Nee, Juffrou. Wag net hier dan gaan haal ek gou vir Janine en Willa.” Emma los haar in die portaal en draf vinnig met die trappe op na die eerste vloer.
Sy kry vir Janine, Willa en Anja in die gang.
“Wie kom help my gou om juffrou Hasendal se tasse op te dra?”
“Wie?” vra Willa.
“Die nuwe juffrou,” sê Emma. “Sy het drie groot tasse en julle moet haar sien! Sy is nie van hier nie.”
Die drie meisies draai net daar om en volg Emma met die trappe af.
Intussen het meneer Plottenboer teruggekom met die kamersleutel en kan sy oë nie van juffrou Hasendal af hou nie. Emma is net betyds om te sien hoe hy die juffrou se hand langer vashou as wat nodig is toe hy vir haar die sleutel gee.
“As daar enigiets anders is, vra maar net,” sê hy. “Waar is Emma … kom ek gaan wys …” en dan sien hy vir Emma en die drie meisies. “E … hier is sy nou. Sal julle vir Juffrou haar kamer gaan wys?”
“Dankie, Meneer,” koer juffrou Hasendal en volg die meisies met die trappe op.
By die landing lui juffrou Hasendal se selfoon. Sy gaan staan en haal die foon uit haar skouersak en druk dit teen haar oor.
“Sarel! Ja, ek is sak en pak hier,” giggel sy en volg Emma-hulle na kamer nommer 11. “Sien jou dan. Toedeldoe.”
Hulle sit die swaar tasse voor juffrou Hasendal se kamer neer en wag dat sy oopsluit. Toe die deur oopgaan, sien hulle die dubbelbed met die satyn deken. Juffrou Hasendal se mond val oop.
“Dis soos ’n hotel!” roep sy met oop arms uit. Sy skop haar hoëhakke uit en plof op die bed neer.
Hulle dra haar tasse in.
“Dankie, meisies,” sê sy. “Vanaand gaan ek soos ’n prinses slaap.”
Toe Emma en Janine by hulle kamers kom, kan Emma haar nuuskierigheid nie meer hou nie.
“Wat is daardie oom van jou se naam nou weer? Die een wat die Berg Hotel gekoop het?”
Janine trek ’n gesig. “Sarel … hoekom?”
“Wonder maar net,” sê Emma.
“Sover ek weet was hy nog nooit getroud nie en het hy nog nooit ’n meisie gehad nie.”
“O …”
2
Maandagoggend word daar agter hande gefluister toe juffrou Hasendal saam met meneer Plottenboer op die verhoog klim. Sy het ’n kanariegeel rok aan met dieselfde kleur hoëhakke, en ’n rooi blom in haar blonde hare.
“Goeiemôre, leerders. Ek het vanoggend vir julle ’n groot verrassing,” kondig meneer Plottenboer aan en glimlag in juffrou Hasendal se rigting. “Al die pad van die stad af kry ons hierdie talentvolle juffrou. Sy gaan vir julle so ’n bietjie oor kultuur leer. Sy is juffrou Janetta Hasendal, ons nuwe drama- en musiekonderwyseres.”
“Drama?” fluister Anja opgewonde langs Emma. “Dis my droom om te act.”
“’n Mens weet nooit wat ons skool gaan oplewer nie. Hier sit dalk van julle wat groot TV- of filmsterre gaan word. Niks is onmoontlik nie,” sê meneer Plottenboer en loer blinkoog na juffrou Hasendal. “Juffrou Hasendal het belowe sy sal sorg dat die talent wat in hierdie skool is, ontwikkel word.”
“Hm, filmster,” sê Anja en stoot haar vingers deur haar blonde hare. “Dalk praat Meneer van my.”
Janine fluister vir Emma. “Ek wonder nou oor my oom Sarel.”
“Hoekom?”
“Dalk het sy juis hiernatoe gekom omdat hy planne het met die hotel.”
“Ja, kan wees. Maar Kosterkloof is ’n one horse town. Sy kan baie beter doen in die stad. Of dalk het meneer Plottenboer vir haar ’n groot salaris aangebied.”
Meneer Plottenboer gee die mikrofoon vir juffrou Hasendal en gaan sit ’n entjie weg op ’n stoel.
“Hallo, julle mooi kinders,” sê sy. “Ek kan nie wag om met julle talente te werk nie. Plattelandse kinders het meer daarvan, glo ek. Ons land se grootste sterre kom van die platteland af.”
Die kinders fluister en giggel.
“En daar is sekerlik baie van julle wat kan sing,” gaan sy voort en kyk oor die kinders. Sy glimlag. “Ek gaan elkeen van julle se stem toets.”
Nadat Janetta Hasendal haar sê gesê het, is meneer Plottenboer byderhand om die mikrofoon by haar te neem.
“Dankie, Juffrou,” sê hy. “Ons sien uit na die veranderinge wat hier in Kosterkloof se skool gaan plaasvind.”
Daardie middag na studie stel Janine voor hulle gaan groet vir Sarel Sameuls by die Berg Hotel.
“Ek is so nuuskierig om te hoor wat sy planne is,” sê Janine toe Emma die tuinhekkie agter hulle toemaak.
“Hm, en of juffrou Hasendal by sy planne inpas,” sê Emma ingedagte.
“Dit klink of sy nogal ernstig is oor talent op die platteland,” sê Janine. “Ek wens ek het gehad.”
“Wat gehad?”
“Talent.”
“Jy het, maar dis nie te sê dis drama of sang nie,” sê Emma. “Dis nie ál talente wat daar is nie.”
“Ja, soos jy met jou speurtalent,” sê Janine en lag.
Na ’n paar af- en dwarsstrate stap hulle teen die berg uit na die indrukwekkende ou gebou wat herinner aan ’n herehuis uit die negentiende eeu. Voor die gebou staan twee afleweringswaens.
“Lyk my hy is baie besig,” sê Janine toe een van die waens se deure oopgaan en karweiers nuwe meubels uithaal en begin aandra hotel toe.
’n Dubbel houtdeur verwelkom hulle. Emma volg Janine na binne.
“Ek was nog nooit hier nie,” sê Janine. “Dis ’n mooi gebou.” Sy kyk op na die plafon met die Venesiese kroonkandelaar en dan af na die Persiese mat. “Ek wonder wat hy in gedagte het.”
Emma se oë soek in die vertrek rond, maar voor sy nog kan wonder waar hy is, kom ’n lang man met ’n bril in ’n pienk en wit gestreepte baadjie, blou hemp en wit broek die portaal binne.
“Janine, ek is so bly om jou te sien,” sê hy en kyk na Emma. “Jou vriendin?”
“Ja, dis Emma Odendal.”
“Emma,” sê Sarel Sameuls. “Hoe verlang ek nou na Ma. Sy was ook Emma.” Daar is ’n hartseer trek op sy gesig: “Ag, nou ja …”
“Dis ’n baie interessante plek,” sê Emma.
“Kom ek gaan wys julle wat ons gaan doen,” sê Sarel en stap voor hulle uit na ’n groot vertrek met uitgekerfde houtpanele teen die mure. Werkers is besig om ’n verhoog teen die verste muur te bou.
“Dit was een van die sitkamers wat nou ’n teater gaan word soos julle kan sien,” verduidelik Sarel. “Met pragtige donkerpers fluweel gordyne. Ons gaan nie sitplekke hê soos in ’n teater nie. Mense gaan hier om tafels sit en eet en drink terwyl hulle na die show kyk.”
“Dit klink fantasties!” sê Janine en kyk na Emma. “Wat dink jy?”
“Ja, ek was al by so ’n teater in die stad.”
Sarel Sameuls kyk na Emma. “Jy kry die idee?”
“Ja,