Emma en die Creepy Komplot. Marianna BrandtЧитать онлайн книгу.
“Ons gaan kunstenaars nooi en ons eie ook ’n kans gee.”
Janine kyk na Emma. “Ek wonder of juffrou Hasendal dit weet.”
“Juffrou Hasendal? O ja, sy weet van al my planne,” sê Sarel en glimlag in sy skik.
Emma en Janine kyk vlugtig na mekaar. Dan was sy reg, dink Emma. Sy gaan hom seker help met die Kultuurfees wat hy beplan.
“Meisies, kan ek vir julle ’n koeldrank aanbied?” vra Sarel Sameuls.
“Dankie, dit sal lekker wees,” sê Janine, en Emma knik.
“Wag net hier. Ek kry gou vir Tandi om dit vir julle te bring,” sê Sarel en verdwyn by ’n deur in.
“Ek dink die plek gaan baie mooi lyk wanneer dit klaar is,” sê Janine.
Emma kyk om haar rond. “Ja, kan nie wag om te sien nie.”
Sarel is vinnig terug. “Ek weet nie wat ek sonder Tandi sou doen nie. Gelukkig het ek haar saam met die hotel gekry en sy is my regterhand,” sê hy en gaan sit op ’n rusbank.
’n Aantreklike Xhosa-meisie in ’n swart uniform en wit voorskoot kom met ’n skinkbord en twee lang glase koeldrank by die vertrek in. Sy glimlag vir hulle en sit dit op ’n tafeltjie neer.
“Dankie, Tandi,” sê Sarel en wys na Janine. “Tandi, dis my niggie se dogter Janine en haar vriendin, Emma.”
Tandi glimlag. “Welkom hier by die Berg Hotel. Meneer Sarel gaan die plek so mooi maak. Julle moet kom kyk wanneer alles klaar is.”
“Ons sal,” sê Janine en kyk Tandi agterna toe sy die groot vertrek deur ’n sydeur verlaat.
“Sy werk hier vandat sy glo sestien is. Sy sê dis al agt jaar. Ek is so bly, want sy weet waar alles in die kombuis is. Intussen het baie kelners en kombuispersoneel gekom en gegaan, maar Tandi het gebly,” vertel Sarel terwyl hulle hulle koeldrank drink.
“Ken jy darem al mense op die dorp behalwe Janine se ouers?” vra Emma so uit die bloute.
“O ja, ek het hier grootgeword. Ons plaas was so vyftien kilometer buite die dorp. My pa is drie jaar gelede oorlede. My ma het op die plaas aangebly, maar het later te siek geword om te boer. Sy is so vier maande gelede oorlede … bless her soul. Ek het die plaas geërf en besluit om terug te kom Kosterkloof toe. Die hotel was in die mark en net die plek wat ek gesoek het.”
“Ek dink dit was ’n goeie besluit,” sê Janine en sluk die laaste van haar koeldrank weg.
“Julle kan gerus weer inloer,” sê Sarel toe hulle deur se kant toe staan.
“Ons sal,” belowe Janine toe hulle groet.
Emma en Janine is net betyds om te sien hoe die kombi met die rugby-ouens en hulle nuwe afrigter, meneer Joori Appelgryn, voor die koshuis stilhou. Emma soek na Zoltan tussen die natgeswete seuns in hulle rooi T-hemde en wit kortbroeke toe hulle uitklim, maar sien hom nie.
“Die ouens raak vir my stewiger by die dag,” sê Janine. “Onthou jy nog toe hulle almal ‘rond en gesond’ was volgens die Snopkes?”
“Ja, min het ons geweet wat steek daaragter,” sê Emma en sien dan haar broer Hendrik tussen die seuns. Hy kom vinnig aangestap.
“Hi, Em! Waar was julle die hele middag? Ek het gedink julle gaan kom kyk hoe ons oefen. Ons speel Saterdag teen die stads-ouens,” sê hy uitasem.
“Ons was by die Berg Hotel,” sê Janine voor Emma kan antwoord.
“Wat het julle dáár gaan maak?”
“Dis Janine se ma se neef se plek.”
“O …” Dan sien hy vir Zoltan. “Onthou, Zol soek nog steeds ’n raket.”
“Sal uitkyk,” sê Emma en loer na Zoltan.
“Wat gaan julle doen by juffrou Hasendal?” vra Janine met spot in haar stem. “Drama of sang?”
Hendrik lag. “Ons het genoeg drama op die rugbyveld en jy moet hoor hoe sing die ouens wanneer die bal hulle teen die kop of in die maag tref.”
“Ag, toe nou, Hendrik,” sê Emma en sy kan voel hoe die bloed na haar wange opstoot.
“Óns sing darem nie so baie nie,” lag Zoltan.
“Ou Joori is die beste. Ons gaan daardie ouens ’n ding of twee wys,” spog Hendrik. “Springbokke, hier kom Kosterkloof se Leeus.”
“Ons sal vir julle kom cheer,” sê Emma en glimlag in Zoltan se rigting.
“Ons maak staat daarop,” sê Zoltan.
“Hei, meneer Appelgryn soek julle,” kom sê ’n seun en tik Hendrik op die skouer. “Hy wil met ons praat oor volgende week se oefenprogram.
“Kom!”
“Onthou om uit te kyk vir ’n raket, Em,” roep Hendrik oor sy skouer toe hy en Zoltan wegdraf.
“Waar gaan ons ’n raket kry, Janine?”
“Ek is seker daar moet een by ons huis wees. My ma het tennis gespeel toe ek nog op laerskool was. Toe hou sy op. Ek sal gaan kyk.”
“Ek hou ook van tennis, maar kan nie goed speel nie,” sê Emma.
“Hm … nou verstaan ek,” sê Janine. “Jy en Zoltan.”
“Nee, dis nie te sê nie. Ek hou van tennis. Dis al,” keer Emma.
Janine lag. “Emma, hoekom bloos jy nou so?”
Na aandstudie sluip Emma met die trappe op na die mediakamer. Mevrou Swartgans, die nagmoeder van die koshuis, en meneer Plottenboer se stemme laat haar in haar spore vassteek.
“Sienie, jy is mos goed met die kaarte. Jy het nog nooit na my hand geloer nie. Ek het gewonder of jy nie moet nie,” hoor sy Gyt Plottenboer sê.
“Maar natuurlik, daar’s niks so goed soos om vooraf te weet nie, nè,” hoor sy die nagmoeder sê. “Sê net wanneer, Meneer.”
“Goed dan, ek sal jou laat weet,” sê Gyt Plottenboer.
Pla iets hom? Emma stap op na die tweede vloer. Mevrou Swartgans het ook gereeld vir die Snopkes voorspel. Ou Skieter Snopke se kaarte gelees, dink Emma toe sy by die mediakamer instap. Wat wil Gyt Plottenboer weet?
’n Uur later, met al die navorsing wat sy nodig het vir die geskiedenistaak, stap Emma terug kamer toe. Mevrou Swartgans is nie in die portaal nie en Emma wonder of sy nie dalk besig is met Gyt Plottenboer se voorspellings nie.
Sy stap die trappe af tot op die grondvloer en beweeg dan versigtig na die skoolhoof se kantoor. Sy hoor mevrou Swartgans se stem en sit haar oor teen die deur terwyl sy ’n oog op die voordeur hou.
“Ek sien net voorspoed vir al jou planne, meneer Plottenboer,” hoor Emma mevrou Swartgans sê.
“Sienie, jy lieg nie vir my nie?” vra Gyt Plottenboer.
“Nee, dis hier in die kaarte.”
“My planne mag nie skipbreuk ly nie. Ek het vir Skieter belowe die koshuis is in goeie hande. My neef vertrou my.”
“Meneer Plottenboer, ek sien geen probleme vir jou nie. Ek sal jou waarsku as ek iets sien,” sê Sienie Swartgans.
Emma beweeg weg van die deur toe sy ’n stoel in die kantoor hoor skuif en vlug die trappe op kamer toe.
3
Dis Donderdag net voor aandete. Emma en Janine kry vir juffrou Hasendal op die trappe met ’n glimlag gelykstaande aan iemand wat pas die lotery gewen het.
“En as Juffrou so excited lyk?” vra Janine.
“Ek mag niks sê nie, meisies. Julle sal maar vir Meneer moet wag om die goeie nuus aan te kondig,” sê juffrou Hasendal met fladderende