Kamikaze. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
dat hy nog sy werk geniet.
Ná presies een uur sit hy die twee getikte folio’s in die lêer en liasseer dit onder S in die antieke houtkabinet.
Hy loop badkamer toe, was sy hande en beskou homself vlugtig in die spieël. Sy wit hemp en donkerbruin das by die vaalgrys pak klere bly een van sy gunstelingkombinasies. Hy het die pak drie jaar gelede in Londen by ’n snyer laat maak.
Op pad uit ignoreer hy die attensies van Buskruit, stertswaaiend en frisbee in die bek.
Met lang hale lê hy die honderd-en-vyftig meter na die koffiewinkel af. Vandag is daar net twee besoekers, albei bejaarde vroue. Hulle kyk dadelik weg toe sy blik op hulle val.
Hy stap eers na die eienaar agter die toonbank en vra met ’n fluisterstem of daar ’n boodskap vir Dennis is. Dié skud net sy kop vinnig en wink sy vrou nader om die Pion se gebruiklike bestelling voor te berei.
Toe hy by sy hoektafeltjie gaan sit, is hy ontspanne. ’n Boodskap vir Dennis sou sy dag bederf het.
* * *
Dis toe Claus die selfoon optel wat hy uitsluitlik vir die drukkery gebruik, dat dit hom soos ’n vuishou tussen die oë tref.
“Jissis!”
Hy spring op van agter sy lessenaar in die kantoor in Montague Gardens. Sweet slaan onmiddellik op sy voorkop uit en sy asem begin jaag.
Hy pluk die pakkie Kent White uit sy baadjie se binnesak en steek ’n sigaret aan. Hoe kon hy nie daaraan gedink het nie? Moet hy ’n noodvergadering met Brian en Ivan belê?
Hy trek diep aan die sigaret. Nee, besluit hy, dis nie nodig om hulle ook op hol te jaag nie.
Met ’n naar kol op sy maag gaan sit hy weer en bel Macy van die landlyn af. Verbasend genoeg hoef hy net twee keer te bel voor sy antwoord.
“Nou net klaar gestort,” sê sy met haar hees stem.
“Ek soek dringend die telefoonnommer van die kontakman.”
“Why, darling? Is daar nog iemand wat julle wil …”
“Gee my net die donnerse nommer!”
“Oukei, oukei, nie nodig om te skree nie. Ek kry dit gou.”
Hy wag ongeduldig terwyl hy die sigaret met ’n magtige teug krom trek. Sy vind die kaartjie en lees die nommers af: telefoon, selfoon en faks.
“Wat presies staan op die kaartjie? Jy’t gesê hy’s by ’n sekuriteitsfirma.”
“So iets … Nee, hier staan hy’s ’n international security consultant. Net dit.”
Hy lui af sonder om te groet. Haal die selfoon wat vir noodgevalle gereserveer is uit die lessenaar se onderste laai en skakel die landlynnommer.
’n Sekretaresse antwoord. Sy sit hom onverwyld deur na Vermeulen.
“Claus Prins, Macy se vriend hier,” sê hy.
“Goeiedag, meneer Prins. Het julle probleme?”
“Dis ’n fokken understatement! Nie een van ons het aan Smuts se selfoonrekords gedink nie. Hy’t my hier by die werk gebel. As die polisie …”
Claus kry nie sy sin voltooi nie, want Vermeulen lag.
“Meneer Prins, geen rede om jouself op te werk nie. Toe ek jou beloof het dat geen spore van Smuts na jou sal lei nie, het ek dit bedoel. Sy selfoonrekords by die diensverskaffer is lankal vernietig. Ek verseker jou, geen polisieman sal dit opspoor nie. As iemand wat die werkswyse van die SAPD soos sy eie handpalm ken, tref ek altyd die nodige voorsorgmaatreëls. Dis waarom die Pion so ’n vlekkelose reputasie het.”
Claus druk die foon dood. Hy kan die onrustigheid nie heeltemal afskud nie, maar hy voel darem beter.
12
Emile de Villiers maak die voordeur van sy huis in Loevenstein oop. Hy is diep in die sestig, ongeskeer, en sy grys hare staan in alle windrigtings. Lyk op ’n haar na soos Einstein, dink Kassie.
De Villiers kom verwese voor toe hy Kassie en Rooi elk met ’n handdruk groet. Hy het Kassie gisteraand teruggebel, en hy was uit die veld geslaan om te hoor Smuts is vermoor.
“Hy was dan ’n week terug by my,” het De Villiers herhaaldelik gesê, asof dit onmoontlik is dat Smuts dood kan wees. Sy verduideliking oor medisyne was só onsamehangend dat Kassie ’n afspraak gemaak het dat hulle hom vandag kom sien.
De Villiers beduie hulle moet hom volg. By ’n skuifdeur uit, oor ’n grasperkie, na ’n groot buitekamer wat hy oopsluit. Die plek lyk soos ’n laboratorium; ’n lang muurtafel staan vol proefbuise en mikroskope van verskillende groottes.
“Meneer Smuts het dié vir my gebring om te ontleed.” De Villiers wys na ’n tafel in die middel van die vertrek waarop pille, verpakkings en medisynebotteltjies staan.
Kassie knik. “Maar voor ons daaroor gesels, wat presies is u beroep?”
De Villiers trek aan die punte van sy woeste snor. “Ek’s eintlik afgetree, maar het my hele lewe lank in laboratoriums van farmaseutiese maatskappye gewerk, oor die wêreld heen. Ek’s ’n chemikus wat in medisyne spesialiseer. Deesdae gebruik baie instansies my om die nuwe produkte van hul opposisie te ontleed. Ek moet die inhoud bepaal en die gehalte evalueer.” Hy gee ’n droë laggie. “Dit hou my op my oudag uit die kwaad.”
“Het Fred Smuts namens een van dié instansies na u gekom?” vra Rooi.
“Nee, hy’t onafhanklik gewerk.” De Villiers wys na die medisyne op die tafel. “Dis goed wat hy die afgelope paar jaar in Afrika bymekaargemaak het. Hy was amper honderd persent seker dis grys produkte wat deur Suid-Afrikaners vervaardig en versprei word.”
“Het hy gesê watter groep?” vra Kassie.
“Nee, Smuts was maar ’n geheimsinnige kêrel, hy’t nie name genoem nie. Maar ek het ook nie regtig gevra nie. Hy’t my vooruit betaal en hy sou die uitslae môre by my kry. Ek het aangeneem hy sou my dan inlig.”
“En wat is u bevinding?” vra Rooi.
“Smuts was reg. Die goed is so grys soos kan kom.”
De Villiers gaan sit op ’n kroegstoel by die tafel en beduie Kassie en Rooi moet die twee kroegstoele by die muurtafel vir hulle nader trek.
“Soos julle kan sien, is die medisyne in drie hopies verdeel.” Hy wys na die kleinste hopie. “Dié spul is produkte van ’n swak gehalte, substandaard. Dit bevat wel die regte bestanddele, maar dit bestaan grotendeels uit nuttelose vullers om koste te bespaar. Jy kan dit vergelyk met ’n nagemaakte Rolex. Op die oog af lyk dit soos ’n egte een en die horlosie werk, maar die onderdele is van ’n swak gehalte en gaan gou poegaai raak. Grys medisyne kom algemeen in Derde-wêreldlande voor. Kansvatters neem kostebesparende kortpaaie omdat die regulatoriese liggame in daardie lande maar slapgat is, en dikwels onbevoeg. Die produkte is meestal matig tot baie gevaarlik vir menslike gebruik.”
Hy beduie na die groter hoop langsaan. “Dié lot is geldige medisyne, maar die vervaldatums is lankal verby. Dit word as vars produkte in nuwe verpakkings bemark. Soms kan dit dodelik gevaarlik wees.” Hy hou twee boksies omhoog. “As julle iets soos Tylenol of Panadol in julle badkamerkassies het waarvan die vervaldatum al verstryk het, gooi dit dadelik weg.”
Kassie dink aan sy botteltjie Rescue Remedy. Dit het al verval, maar dit hou darem seker nie enige gevaar in nie. Dis egter nie nou die tyd om De Villiers met stupid persoonlike vrae te onderbreek nie.
Die chemikus wys na die grootste hoop. “Hierdie is die heel gevaarlikste, dis nagemaakte medisyne. Dit word willens en wetens vervaardig om geld te maak uit onkundige mense, van wie daar in die ontwikkelende wêreld ’n helse lot is, veral in Afrika. Ons praat van ’n enorme afsetgebied.”
Hy tel ’n kapsule op en rol dit tussen sy vingers. “Die medisyne kan byvoorbeeld besmet wees met fungi en bakterieë en ander