Kamikaze. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
duisende sterftes elke jaar. Die International Policy Network skat tot sewehonderdduisend mense jaarliks wêreldwyd, met vals medisyne as direkte of indirekte oorsaak van dood.”
Rooi skud sy kop. “Bliksis! Daai stats sal maak dat ek nooit weer ’n pil sluk nie.”
De Villiers grinnik. “Dit kom darem nie sommer op Suid-Afrikaanse apteekrakke voor nie. Ons medisynebeheerliggaam vergelyk met die beste in die wêreld. Dis blykbaar meestal Chinese en Indiese vervaardigers wat vir die nagemaakte produkte verantwoordelik is.”
“En nou ook Suid-Afrikaners?” vra Kassie.
“Wel, dis wat Smuts vermoed het … Hy was eintlik doodseker daarvan.”
Rooi beduie na die medisyne op die tafel. “Hoe weet u dis dieselfde ouens wat dié spul versprei het?”
“Dit sou vir my onmoontlik gewees het om dit te bepaal, behalwe dat Smuts vooraf seker gemaak het van sy feite.”
“Hoe?” vra Rooi en Kassie gelyk.
De Villiers glimlag. “Smuts was ’n uiters deeglike en oplettende ondersoeker. Die aanwysings op al die medisyneverpakkings en die botteltjies se etikette het iets gemeen.”
Hy staan op, stap na ’n muurrak en kom terug met ’n boksie. Tel ’n boksie van die tafel op en hou die twee omhoog. “Hier het ek die verpakkings van ’n geldige produk en een wat vervals is. Die aanwysings op beide boksies stem honderd persent ooreen. Die kleure en die tipe karton waarop dit gedruk is, is presies dieselfde. Niemand sou ooit die vervalste verpakking bevraagteken het nie, ek inkluis.”
Hy hou die nagemaakte boksie op. “Maar as julle baie mooi kyk na die drukwerk op dié outjie, sal julle sien daar is by elke derde lyntjie ’n groter gaping tussen die woorde as by die vorige twee lyne. Ek moes mooi kyk om dit raak te sien, maar wanneer jou oog daaraan gewoond is, let jy dit eintlik maklik op.”
Kassie neem die boksie by hom en beskou die fyngedrukte skrif van naby. “Moontlik ’n fout met die drukmasjien wat hulle gebruik?”
“Dis reg,” sê De Villiers.
“So hierdie skelms druk hul eie verpakkings ook?” vra Rooi verbaas.
De Villiers knik. “Hulle het dit beslis self gedruk, of minstens dieselfde drukkery gebruik.”
Rooi vee oor sy borselkop. “Hoe het Smuts geweet dis Suid-Afrikaanse drukkers?”
De Villiers haal sy skouers op. “Dit weet ek nie. Maar hy het seker van sy saak gelyk. Ek is ongelukkig nie ’n kenner van die verpakkingseienskappe van vervalste produkte nie.”
“Het u Smuts goed geken?” vra Kassie en oorhandig die vals boksie aan Rooi.
“Glad nie. Het hom maar ontmoet toe hy hier aankom. Die nuus van sy dood is nogtans ’n groot skok. Baie aangename kêrel gewees.”
Rooi kyk op van die boksie. “Hoe het hy by u uitgekom?”
“Dokter Stew Stewart het hom na my verwys. Smuts het eerste met hom gaan gesels.”
“Wat doen dokter Stewart?” vra Kassie.
“Hy’s ook afgetree, maar hy’t jare lank in die medisynebeheerraad van Suid-Afrika gedien. Hy’t ook soms in Afrika gaan help met regulatoriese kwessies, hy’s ’n kenner op dié gebied.”
“Weet u waar ons hom in die hande kan kry?”
“Hy bly in Somerset-Wes. Presies waar weet ek nie, maar ek het sy huistelefoonnommer.”
De Villers staan op en beduie deur toe. Kassie en Rooi volg hom terug oor die grasperkie en wag in die sitkamer vir hom. Hy is gou terug met ’n velletjie papier, en hulle bedank hom en groet.
In die motor, met Rooi agter die stuur, bel Kassie vir dokter Stewart. Hy frons toe hy die antwoordmasjien se boodskap kry.
“Shit, Stewart is met vakansie in Australië. Hy sal eers teen die naweek terug in die land wees.”
“Ons weet darem nou wat Smuts ondersoek het,” sê Rooi. “Dalk kan Stewart ons na die kroeks toe lei.”
Kassie skud sy kop. “Ek weet nie so mooi nie. Smuts was so bleddie geheimsinnig dat dit in alle waarskynlikheid ’n doodloopstraat is.”
13
Dis nou tipies Moos, dink Louisa Maritz met ’n glimlag.
Sy kyk weer na die SMS wat hy gister vir haar gestuur het. Rtjy iwnsljsi uwffy. Jp mjw s qjppjw znyiflnsl qnw otz. Xfg otz ujwxttsqnp ptr xuwjjp. Rttx.
Dis in Caesarkode geskryf, die primitiefste bestaande kodetaal, wat meer as tweeduisend jaar gelede deur die Romeine ontwikkel is en wat in die Eerste Wêreldoorlog op die slagveld gebruik is om boodskappe oor te dra. Só het Moos verduidelik toe hulle destyds saam by die munisipaliteit gewerk het.
Sy het in ’n stowwerige boks in die spaarkamer gaan rondgrawe om die kode te kry. In ontsyferde taal lees die boodskap: Moet dringend praat. Ek het ’n lekker uitdaging vir jou. Sal jou persoonlik kom spreek. Moos.
Sy skud haar kop geamuseerd. Dié Moos is omtrent ’n eienaardige skepsel. Al het hulle drie jaar lank by die munisipaliteit langs mekaar in die kantoor gesit, kon sy hom nooit peil nie. Interessant was hy wel. Sy kon ure luister na sy stories oor spioene, ’n onderwerp waaroor hy ’n lopende ensiklopedie was. Maar sy kon nooit uitmaak wat regtig in sy kop aangaan nie.
Hulle was ses in die afdeling en toe hulle agterkom die baas onderskep die boodskappe en grappies wat hulle onderling vir mekaar stuur, het Moos met ’n oplossing gekom: die Caesarkode. Hulle het groot genot daaruit geput om die kode vir hul e-posse te gebruik, wetende dat dit hul nuuskierige baas grensloos irriteer.
Louisa weet sy het baie aan Moos te danke. Toe die afdeling se personeelrekords, wat in daardie stadium in ’n staalkabinet in die baas se kantoor gehou is, gerekenariseer word, het sy Moos se hulp ingeroep. Daar was ’n geskrewe waarskuwing van ’n vorige baas in haar lêer wat sy wou hê moes verdwyn. Want as dit eers op die rekenaarstelsel is, gaan dit onmoontlik wees om te verwyder. Dié waarskuwing oor die diefstal van kantoorskryfbehoeftes het soos ’n donker wolk oor haar loopbaan gehang; dit sou haar kans op bevordering vir ewig beduiwel.
Sy het goed geweet Moos is tot oor sy ore verlief op haar, hoewel sy glad nie in ’n verhouding belanggestel het nie. Hy is nie ’n oil painting nie – oorgewig, probleemvel, diklensbril – en eintlik glad nie haar soort ou nie. Maar hy sou enigiets doen om haar te beïndruk, en boonop wou hy nog altyd sy lyf spioen hou.
Sy was verstom toe hy sommer die volgende dag al die gewraakte dokument aan haar oorhandig. Hy was aanvanklik geheimsinnig oor hoe hy dit in die hande gekry het, maar later by ’n kantoorpartytjie, met ’n paar doppe in sy lyf, het hy haar vertel. Hy het in die nag by die munisipaliteit se stoor ingebreek om in die gebou te kom, op sy maag in die gang af geseil om die oog van die sekerheidskamera te ontduik en toe die kabinet se sleutel uit die baas se onderste lessenaarlaai gekry.
Sy was so oorstelp van vreugde dat sy belowe het sy sal eendag vir hom ook ’n klip uit die pad rol.
Kort daarna het hul paaie geskei toe sy die Lotto gewen het. Al het sy die groot boerpot met drie ander wenners gedeel, was dit genoeg geld om vir ’n lang tyd kommervry te lewe. Sy het by die munisipaliteit bedank, ’n seeuitsig-woonstelletjie in Mouillepunt aangeskaf en vir die volgende twee jaar die wêreld vol gereis.
’n Jaar gelede het sy Moos toevallig in die stad raakgeloop. Hy het vertel hy is nou ’n spioen, “belas met geweldig delikate en lewensgevaarlike take”. Maar sy moes stilbly daaroor, “want dit kan die land se veiligheid in gedrang bring”. Sy het plegtig belowe, hoewel sy vermoed het dat hy ’n bietjie aandik oor die belangrikheid van sy rol.
Nou is sy dodelik nuuskierig oor die uitdaging waarna hy in sy SMS verwys. Klink so of hy van haar verwag om haar belofte van destyds na te kom.
Om eerlik te wees, sy sal ’n bietjie afwisseling in haar lewe verwelkom. Sy voel deesdae opgeskeep