Hans steek die Rubicon oor. Rudie van RensburgЧитать онлайн книгу.
se konsert, toe hy net een van sy drie sinne in die toneelstuk kon onthou. Van toe af het hy alle openbare optredes eenvoudig geweier.
“Hulle het ook ’n baie oulike speletjieskamer waar hulle vingerbord, dambord …”
“Ek het snakes and ladders ontgroei,” het hy Ben kortgeknip.
“Die inwoners hou weekliks vergadering, Pappie,” het Carla gekoer. “’n Geleentheid om dinge in die tehuis wat mag hinder met die bestuur te bespreek, wat ek baie bedagsaam vind.”
Asof hy nie gedurende sy loopbaan in die korporatiewe wêreld genoeg gehad het van daardie soort tydverkwistende martelsessies nie. Om nie te praat van dié wat hy in die kerkraad moes deursit nie. Tot vandag toe glo hy dit het direk bygedra tot die aambeiprobleem wat hy ontwikkel het.
“Daar is gemeenskaplike badkamers, maar dis silwerskoon,” het Ben sy Goebbels-betoog voortgesit. “Jy kan létterlik van die vloer af eet.”
“Ou mans wat pie, korrel almal skeef,” het hy gesê. “Ek sal nottendêm iets van daai vloer af eet.”
“Vertel vir Pa van die daaglikse liggaamsoefeninge,” het Willem met ’n skalkse glimlag gepor.
Hy het nie belanggestel om verder te luister nie. Hy het sy transistortjie harder gestel, sy leesbril opgesit en die koerant oopgevou.
’n Klop aan die voordeur laat hom nou steun-steun orent kom. Hy loop traag deur toe.
Twee mans in oorpakke wag hom in. “Ons is hier om meneer se meubels op te tel.”
Hy loop voor hulle uit kamer toe. “Julle kan die groot tas ook maar saamvat, los net die kleintjie.”
Op die stoep kyk hy hoe hulle die paar meubelstukke op ’n bakkie laai. Het hy sy lewe lank gewerk om met dié paar beskimmelde goedjies sy laaste jare in te gaan?
“Die bussie sal nou-nou hier wees vir meneer,” sê die bestuurder toe hulle groet.
Hans loop kamer toe, trek die tas se handvatsel uit en sleep dit agter hom aan. Die wieletjies kierts-kierts oor die plankvloer. Sonder om nog ’n laaste draai deur die huis te loop, sluit hy die voordeur en bêre die sleutel onder die potplant soos hy met die nuwe eienaar afgespreek het.
Hy gaan sit op die stoepmuurtjie en tuur oor die tuin. Dis hopeloos oorgroei, maar dis die nuwe eienaar se probleem. Soos hy is sy huis ook voetstoots verkoop.
’n Bussie kom aangery en hou in die straat stil. “Huis Madeliefie” staan in goue sierletters oor die lengte van die onooglike turkoois bakwerk geskryf. ’n Skraal kêrel met ’n diklensbril en wippende bokbaard spring flink uit en kom glimlaggend nader.
“Ek’s hier om my oompie na Madies toe te vat.”
Hy frons. “Madies?”
Die man lag. “Dit is sommer ons noemnaampie vir ons tehuis.”
Gee my krag, dink hy.
“Wag, laat ek my oompie se tassie dra.”
“Ek sal self regkom.”
Die man maak die skuifdeur van die bussie vir hom oop. Hy ignoreer die aangebode hand en klim op eie stoom in.
Die bussie trek weg. Hy kyk nie om na die huis nie.
“My oompie sien seker uit om na ons ou nessie toe te trek?”
Hy antwoord nie. Kan die skepsel net in verkleinwoordjies praat? Of is dit ’n Madies-gebruik?
Nessie! Net die gedagte gee hom erge engtevrees.
By ’n rooi verkeerslig sê die man: “My oompie is eintlik gelukkig om vandag in te trek. Ons hou vanaand vir die oumensies ’n vleisbraai in die vierkant. Hulle geniet dit altyd vreeslik, veral die vrolike samesang so om die vuurtjie.”
’n Versmorende beklemming kom lê op sy bors. Hy asem diep in. Dis tyd vir ’n noodplan.
Hy kyk om hom rond. ’n Entjie voor hulle lê ’n groot winkelsentrum.
Hy tik die kêrel op die skouer en beduie daarheen. “Jy kan my by die sentrum aflaai. Ek moet nog ’n paar goed kry. Ek sal self sorg dat ek by die tehuis kom.”
“Ons is eintlik nie veronderstel om …”
“Maak net soos ek vra,” sê hy bars.
“Nou maar reg. Ek sal my oompie later weer hier kom optel.”
“Jou oompie is fiks genoeg om tehuis toe te stap, dankie.”
Hy maak die skuifdeur self oop toe die bussie stilhou, laai sy tas uit en trek die handvatsel op.
“Moet ek nie die tassie solank gaan aflaai nie?” vra die man besorg.
Hy maak of hy nie hoor nie, stap net vinnig na die naaste ingang. Die tas se wieletjies vat skaars grond.
In die sentrum keer hy ’n sekerheidswag voor. “Is hier ’n reisagentskap in dié plek?”
“Net om daai draai, meneer.”
Hy kry dit maklik. African Safari Tours.
Die meisie agter die toonbank glimlag. “Waarmee kan ons help?”
Hy maak sy tas langs hom staan. “Ek wil Suidwes toe gaan.”
“Suidwes?”
“Suidwes-Afrika. Etosha-panne.”
“O, Namibië!”
“Ja. Vir so ’n week … Nee, maak dit sommer twee.”
Hy sal van daar af vir die kinders poskaarte stuur om hulle te kalmeer. Soos hy Carla ken, sal sy teen daai tyd seker al vir Interpol op sy spoor hê.
“Daar vertrek môreoggend ’n SAL-vlug Windhoek toe,” sê die meisie.
“Bespreek vir my op hom. En reël vervoer Etosha toe en akkommodasie en al die ander goeters wat julle gewoonlik vir toeriste doen. Dit moet ’n lékker trip wees.”
“Dalk moet oom sit. Die besprekings en al die papierwerk gaan ’n tydjie neem.”
“Los die oom, noem my sommer Hans.”
Sy glimlag. “Reg, Hans.”
Dit klink goed om sy naam te hoor. Dis hoog tyd dat hy weer in die hoofstroom van Homo sapiens opgeneem word.
Die kinders gaan kolossale vloermoere gooi, maar hy gee nie ’n duiwel om nie. Hy kan met sy lewe en sy geld doen wat hy wil. Madies sal hom in sy oorblywende paar jare op hierdie aardbol nie sien nie. Hy sal seker die deposito verbeur, maar dis kleingeld. Hulle kan die afgeleefde meubeltjies en sy winterklere maar hou, of dit opveil vir hulle konsertfonds.
“Jy moet vir my plek bespreek in ’n hotel naby die lughawe vir vanaand. Kyk of jy een kan kry waar daar belly dancers optree.”
Haar laggie is klokhelder. “Lyk my jy’s ’n bok vir sports, Hans!”
Hy knik gemoedelik en lag terug. Daar’s nie ’n kat se kans dat hy vanaand saam met ’n klomp oues “Sal ons ou kennisse ooit vergeet” om die braaivleisvuur gaan sing nie.
“Jy weet nie dalk van ’n woonstel wat ek kan huur as ek terug is van Suidwes nie? Verkieslik gemeubileer, en met ’n uitsig oor die see.”
3
Hans is verlig dat niemand langs hom sit op die terugvlug na Kaapstad nie. Toe hy twee weke gelede Windhoek toe is, was hy in die middelsitplek vasgepen tussen ’n droewige man en ’n praatsieke Duitse vrou met ’n skerp knoffelasem.
Die man het heeltyd by die vliegtuig se venstertjie uitgestaar en elke nou en dan fyn huilgeluidjies geuiter, kompleet soos ’n klein hondjie wat alleen in ’n kamer opgesluit is. Tussenin het hy weemoedig geprewel en soms hardop gesnik. Of die arme kêrel slegte nuus gekry het en of hy maar net van nature droewig is, sal Hans nie weet nie. Hy’t nooit