Ena Murray Omnibus 26. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
sê sy, en dis die laaste ding wat hy wou hoor. Vergewe, ja, maar vergeet? Nooit. Nou, met sy oë op haar, weet hy dat hy nooit vergeet het nie. Hy begeer die vrou hier voor hom meer as ooit tevore. Paul was reg. Anmar is nie meer die verliefde jong verpleegstertjie wat pas haar rooi epoulette op haar skouers vasgesteek het nie. Sy is ’n vrou . . . beheers, kalm, en so aanloklik dat hy daarvan kan mal word.
Hy kyk na die glinsterende donker hare wat sag om haar ore krul. Hy sien die mooi wenkbroue, die grys oë, die perfekte vorm van haar wangbene, die reguit neus, die vol, vroulike lippe. Hy sien die soepel gestalte, die deining van bors en heup, die fyn hande met die goed versorgde naels. Hy sien dit alles en iets in hom wil breek toe ’n ander beeld meteens tussen hom en hierdie pragtige mens inskuif. Dis of ’n fisieke pyn deur hom gaan.
Jare gelede sou hy geweet het hoe om haar vriendelike afsydigheid, wat vir hom erger is as woede, te hanteer. Maar die ouer Anmar Cloete sal nie meer deur mooi woordjies en liefdesfluisteringe beïnvloed word nie. Die vrou hier voor hom is nie meer die meisie wat hy altyd so maklik hanteer het nie. Die vrou wat hom so kalm in die oë kyk, beplan haar toekoms sonder hom.
Sy staan op en glimlag. “Ek gaan nou eers vir ons ’n bietjie tee maak en dan, dink ek, sal dit verstandiger wees as jy liewer gaan, Clive. Kruisrivier is ’n klein dorpie en min wat hier gebeur, ontglip die skindertonge. Dis nie die stad waar elkeen sy eie gang gaan nie. Hier is niks geheim nie.”
Sy sien nie die skuldige blos wat sy wange vlek nie, want sy is reeds doenig in die kombuisie. Hy hoor haar rondbeweeg en dit is vir hom oneindig wonderlik om te weet dat Anmar hier naby hom is. En tog besef hy dat sy nooit verder van hom af was as juis nou nie. Hy moet die drang onderdruk om na die kombuis te stap, haar na hom toe om te draai, sy arms om haar te vou en haar te liefkoos soos wat elke vesel in sy liggaam begeer om te doen, totdat sy weer week en sag en inskiklik in sy arms is soos lank gelede. Maar dit sal fataal wees.
Sy oë vernou. Hy sal haar baie versigtig moet benader. Dis ’n probleem wat hy sal pak wanneer hy eers sekerheid oor Anmar het.
Onbewus van wat in haar eertydse verloofde se gedagtes omgaan, bring Anmar die tee en drink hulle dit in ’n ongemaklike, doodse stilte. Daar het regtig niks meer oorgebly om te sê nie, en om nou oor gemeenplasies te probeer gesels, is onvanpas. Sy is dankbaar toe hy sy teekoppie neersit, en sy staan beslis op. Clive moet nou gaan.
Hy staan onwillig op, sien hoe sy deur toe stap, sien die bevel in haar oë, weet dat sy tyd verstreke is. Toe hy by die deur kom, maak sy ook sommer die voordeur oop. Hy aarsel in die deur, draai dan vinnig na haar terug.
“Dankie, Anmar.” Hulle weet albei hy bedank haar nie vir die tee nie, en sy knik net.
“Nag, Clive.”
Hy sluk, aarsel nog, trek haar meteens nader, druk sy lippe warm en dringend op haar voorkop en sy stem is hees, emosiebelaai: “Wat ’n groot dwaas was ek nie!”
Dan is hy die trappies af, stap reguit na sy motor, sien nie eens die ander motor onder die bloekom langs die verpleegsterstehuis staan nie.
Hy trek met ’n vaart weg en Elsa Dreyer laat verwonderd hoor: “Wel! Wel! Ons is darem ’n toe klomp mense in hierdie hospitaal.”
“Wat bedoel jy?”
“Alles is nou glashelder vir my – matrone se skielike metamorfose, natuurlik. Ons nuwe dokter is die oorsaak.”
“Jy sien spoke, Elsa. Kom. Ek wil gaan slaap.”
Sy kyk hom gesteurd aan toe sy langs hom buite die motor staan. “Vir wie probeer jy skerm, Paul – vir jou neef of . . . matrone?”
“Nag, Elsa.”
Sy sien hom omstap na sy kant van die motor en voordat sy nog ’n woord kan sê, trek ook hy met ’n vaart weg. Sy kyk die rooi agterliggies peinsend agterna, keer dan haar blik na die matrone se woonstel waar daar nog lig brand.
Sy glimlag. Hou so aan, matrone Cloete, sê sy in haar gedagtes. Hou so aan! Dit mag Paul grief dat jy skielik so uit jou dop gekruip het, maar dit pas my uitstekend. Dan, met ’n ingenome laggie, verdwyn sy by die voordeur in.
5
__
Toe Anmar die volgende oggend na Paul van Drüten kyk, kan sy duidelik aan sy gesig en houding sien dat dit vandag weer een van dáárdie dae is. Sy sug onhoorbaar. Wat sal tog nou weer verkeerd wees?
Sy sit haar pen neer. “Ja, dokter?”
“Is jy weer hierdie naweek van diens?”
Sy frons liggies. Gaan hy nou nog met haar naweke ook peuter? “Wel, ja. Ek is gewoonlik van Vrydagmiddag tot Maandagoggend vry. Ek neem nooit my afdae gedurende die week nie, maar as u . . .”
“Nee, ek wou maar net seker maak of jy hierdie naweek vry is. Dis al. Gaan jy weg?”
“Nee.” Sy frons nou openlik. Waarop stuur hy af? Hy het nog nooit tevore belangstelling in haar afdae getoon nie.
“Gaaf.” Hy sê die woord asof dit alles behalwe gaaf is. “Ek sal jou Vrydagaand sewe-uur kom kry,” en draai dan dadelik om.
Sy spring uit haar stoel op. “Net ’n oomblik, dokter. As ek mag weet . . . waarheen gaan ons?”
Hy stap rustig aan tot by die deur. Dan kyk hy om en antwoord met sy hand op die deurknop: “Louise Coertze het ons genooi vir ete. Eintlik vir my, maar sy het gesê ek kan gerus ’n maat saambring. Ek het gedink jy is die ideale persoon om saam te neem, matrone.”
Haar gesig verstil. “Ek dink jy dink verkeerd, dokter Van Drüten. Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek dink Elsa Dreyer sal beter in daardie prentjie pas.”
“Dis jý wat verkeerd dink. Niémand pas beter as jy nie. Ek kry jou om sewe-uur. Sorg dat jy gereed is.”
Hy stap uit en Anmar sak verslae op die stoel neer. As hierdie man net wil ophou om sy neus in haar sake te steek!
Vrydagoggend beweeg sy rusteloos deur haar woonstel. Sy probeer die vrees en onsekerheid in haar stil deur haarself oor en oor te verseker dat hy haar nie kan dwing om saam te gaan nie. Sy sal hom die deur wys as hy hier aankom. Dis genoeg dat hy haar in die hospitaal hiet en gebied. In haar privaat lewe het hy geen sê nie.
Sou Clive weet van hierdie ete-afspraak? Weet hy dat sy neef beoog om háár saam te bring? Sou Clive se vrou weet wie dit is wat Paul van Drüten as maat wil saamsleep?
Toe ’n klop opklink, ruk sy soos sy skrik, en hoewel sy uiterlik kalm vertoon, maal en kolk dit binne-in haar toe sy deur toe stap.
Hy frons teen haar uniform vas. “Goeienaand, matrone. Jy sal moet wikkel. Dis amper sewe-uur.” Hy stap ongenooid binne.
Sy druk die deur toe en hy gaan sit weer in die stoel waarin hy laas ook gesit het.
“Dokter, moenie kinderagtig wees nie. Ek gaan nie saam nie.”
“Jy gaan saam. Gaan maak klaar.”
“Ek gaan nié!”
“Bang, matrone? Of skaam?”
Teen wil en dank voel sy weer die warm gloed oor haar gesig spoel. “Ek het geen rede om bang te wees nie.” Die vermetelheid van die man!
“Nou goed, matrone. Dan is jy skaam.”
“Skaam? Waaroor? Ek het nog nooit iets gehad om my oor te skaam nie, in elk geval nie waar dit . . . waar dit . . .”
“Louise Coertze aangaan nie?” voeg hy hulpvaardig by, sy oë ondersoekend op haar gerig. “Miskien nie in die verlede nie, matrone, maar . . .”
“Maar wat?”
“Maar wat daarvan dat haar man jou in jou woonstel kom besoek het?”
Die gloed op haar wange verdwyn. Bleek en styf sê sy afgemete: “Clive het net ingeloer. Ek weet nie of hy tien minute hier was nie. Ek hoop jou informant het jou dit ook vertel.”
“Niemand