Ena Murray Omnibus 26. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
Anmar, het jy deel gehad aan haar selfvernietiging, aan die afsterf van haar wil om te lewe, om haar man se liefde te wen, om ’n waardige mens te wees. Die spook wat háár steeds rondjaag, is ’n groter, meer vernietigende spook as joune, Anmar.”
“Jy bedoel ék is die spook?”
“Ja. Jy. En as jy nou weggaan, sal jou spook haar bly treiter tot haar sterfdag. Besef jy nie dat jy – en net jy – aan daardie arme mens weer ’n waardige lewe kan teruggee nie?”
“Maar hoe? Hóé?” vra sy byna huilend, verbyster deur die dinge wat die man hier langs haar nou praat. Hoe kan Paul van Drüten háár beskuldig dat sý van Louise Coertze die patetiese wese gemaak het wat sy vandag is? Sý wat teruggestaan en van die toneel verdwyn het en haar verloofde net so, sonder slag of stoot, aan haar oorhandig het?
“Deur weer van haar ’n volwaardige vrou vir haar man te maak. Ken jy werklik niks van die agtergrond van hierdie verhaal nie?”
Sy skud haar kop ontkennend, leun terug en sien nou eers dat hulle nie voor die verpleegsterstehuis stilgehou het nie, maar dat hulle op die suidelike rant van Kruisrivier sit en op die dorp se liggies afkyk.
“Nee. Ek ken net mý deel van die storie. Verder weet ek niks.”
“Wil jy my nie jou deel vertel nie?”
“Ek kan maar.” Ja, sy kan maar vir Paul van Drüten vertel. Daar is vanaand al soveel intense dinge gesê dat haar deel van die verhaal dalk sal help om die legkaart te voltooi.
“Ek moes nog net twee dae werk voordat ek sou klaarmaak en gaan trou. Die troukaartjies was uitgestuur en beantwoord. Die saal was bespreek vir die onthaal, die blomme by die bloemiste bestel, die trougeskenke het al begin instroom. My vriendinne het reeds vir my ’n kombuistee gegee. Die . . . trourok het in my kamer teen die kas gehang, gereed . . .”
Sy sluk swaar, sukkel voort. “Toe ek daardie middag van diens kom, was daar ’n besoeker vir my in die sitkamer. Dit was jou pa. Ek het hom nie geken nie, en gewonder wie die vreemde man is. Hy het homself bekend gestel en toe het ek onthou dat Clive al van sy oom gepraat het, ’n dokter Van Drüten wat êrens op ’n klein dorpie geneesheer is.” Sy knel haar vingers styf inmekaar, ruk haar asem in en meteens is die breë skouer weer daar om op te leun, die breë bors om teen te huil. “En toe het hy gesê dat hy nie stad toe gekom het vir ons troue soos ek dalk vermoed nie, maar om my te vertel dat . . . dat daar ’n meisie is, ’n ander meisie . . . wat Clive se kind verwag.”
Dis lank stil in die motor voordat daar weer gepraat word. “Hy was so dierbaar, so vreeslik dierbaar vir my. Oudokter . . . Ek was so verslae, so doodverskrik, dat ek net na hom kon sit en kyk, skaars gehoor het wat hy verder praat. Teen die end het hy opgestaan en toe het hy gesê dat as ek miskien ’n plekkie soek, ek baie welkom op Kruisrivier sal wees. Hy het vertel dat hier ’n hospitaal is en dat hulle juis ’n matrone soek. Die dag toe ek en Clive sou trou, het ek op Kruisrivier aangekom en hier is ek vandag nog. Ek het Oudokter nooit na Clive gevra nie. Hy het my ook nooit weer iets van hom vertel nie. Net dat Clive en die meisie toe getroud is. Dis al.”
Met sy hand nog in haar hare, neem Paul die verhaal oor: “Clive en Louise is getroud, hoewel hy haar duidelik laat verstaan het dat hy net met haar trou omdat hy moet en omdat sy verloofde verdwyn het. ’n Paar uur ná die troue het alles te veel geword vir Louise. ’n Verskriklike ongeluk. Sy was maande lank in die hospitaal. Sy het die baba verloor. Haar been en arm byna ook. Maar nog meer as dit het sy verloor. Sy het haar wil om te lewe verloor. Sy het stadig reggekom, later só herstel dat sy die hospitaal kon verlaat, dat sy weer op ’n manier kon beweeg, met die hand kon vat. Maar sy het nie meer omgegee wat gebeur nie – of sy herstel of nie.
“As sy net haar samewerking wil gee, bereid is om haar oefeninge te doen, sal daardie been en arm so te sê heeltemal herstel. Maar sy gee nie om nie. Elke keer as ek met haar daaroor praat, is haar vraag: Waarvoor? Jy sien self hoe lyk sy – verwaarloos, selfs slordig. Sy probeer haar nie eens meer regruk nie. Sy wend geen poging aan om haar man se liefde te wen nie. Sy sê dit help nie om teen ’n spook te veg nie.” Hy sug saggies. “Daarom was dit so noodsaaklik dat sy jou moes sien, in lewende lywe ontmoet, Anmar. Jy moet ophou om ’n bonatuurlike wese te wees waarteen sy nie kan veg nie, waarteen sy verloor het nog voordat sy eens begin het. Jy moet ’n werklikheid vir haar word.”
“Maar nou, nadat sy my gesien het . . . As ek nou weggaan, van die toneel verdwyn . . .”
“Nee. Sy is ’n intelligente vrou. Sy het Clive se reaksie gesien – en reg vertolk – toe hy jou gewaar het. Sy weet ook hoe sy teen jou vergelyk.”
Sy sit effens weg, kyk na hom op. “Dan was jy mos oneindig wreed teenoor haar om my vanaand daarheen te geneem het!”
“Ja, ek was, maar dit was noodsaaklik. Sy moes jou sien soos jy werklik is. Kan jy dan nie verstaan nie, Anmar? Nou kan ons hiervandaan verder gaan.”
“Wat . . . wat bedoel jy met ‘ons’?” Sy vra die vraag bevrees, bang vir wat sy miskien gaan hoor. Sy wil dit nie hoor nie. Sy wil geen deel hê aan hierdie mense nie. Clive Coertze het die verlede beheer, van haar ’n kluisenaar gemaak, ’n vlugteling. En nou wil Paul weer Louise Coertze deel van haar hede maak. Nee!
Maar hy antwoord kalm: “Jy moet haar nou help, Anmar. Jy moet haar terugbring na die lewe.”
“Maar hoe?” roep sy uit. “Jy sê dit elke keer, maar hoe? Hoe moet ek haar help?”
“Soos net ’n vrou soos jy haar kan help, Anmar. Ek wil haar weer begin behandel, ’n reeks oefeninge en terapeutiese behandeling. Jy moet my help. Elke dag. Kom ons gee haar weer haar arm en been terug en, terwyl ons dit doen, maak jy weer van haar ’n vrou. Die begeerlike vrou wat sy moes gewees het as Clive, verloof aan ’n meisie soos jy, haar nie kon weerstaan het nie.”
“Bly stil!” Sy deins van hom af weg. “Jy is wreed. Jy is hard en sonder genade, Paul van Drüten. Ek dink ek kom soms baie na daaraan om jou te . . . te haat!”
“Anmar, wanneer ’n weerlose, heel liggaam voor my op die operasietafel lê, lyk dit wreed om ’n mes te neem en dit koelbloedig oop te kloof en dele uit te sny. Maar jy en ek weet albei dis noodsaaklike wreedheid . . . soos hierdie van vanaand. Beloof jy dat jy gaan saamwerk, Anmar?”
Sy ontwyk sy oë, staar op Kruisrivier se liggies af. “Ek weet nie. Ek weet nie wat presies jy van my verwag nie.”
“Ek gaan haar hierdie naweek voorberei op my planne. Maandag begin ons met die behandeling. Elke middag om vyfuur, wanneer jy van diens af kom, moet jy haar gaan help met die behandeling en oefeninge. Jy moet haar vertroue wen en mettertyd ook haar siek gees begin behandel.”
“Maar hoekom vir mý kies?”
“Juis vir jou, Anmar. Eerstens omdat jy die enigste verpleegster op Kruisrivier is wat oor die kwalifikasies beskik om dit te doen. Tweedens, omdat dit jou heilige plig is om haar eers te help om weer ’n volwaardige, sterk mens te wees voordat jy haar man van haar af wegvat.”
Die stilte in die motor duur ’n ewigheid. Dan sê Anmar skor: “Neem my terug. Neem my onmiddellik terug.”
“Anmar . . .”
Sy ruk haar hand onder syne weg. “Neem my terug, Paul van Drüten. Ek het niks verder om met jou te bespreek nie.”
Toe hulle stilhou, wag sy nie dat hy die deur vir haar oopmaak nie. Sy klim ferm uit, stap vinnig na haar voordeur. Sy wil net wegkom, so vinnig as moontlik wegkom van hierdie man wat nie omgee wat hy sê of hoe seer hy ander maak nie. Maar by haar woonsteldeur moet sy wag. Hy het die sleutel in sy sak. Sy sien sy hand by haar skouer verbykom en die sleutel in die slot druk, maar hy draai dit nie.
“Kan ek op jou samewerking reken, Anmar?”
Sy ruk haar kop sywaarts, kyk met ’n vernietigende blik op. “Ons kan Maandagmiddag met die behandeling begin. Sê vir Louise Coertze ek sal kwart oor vyf Maandagmiddag daar wees. Nag, dokter.”
6
__