Ena Murray Omnibus 34. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
nie? Ek sal baie besig wees die volgende dae. Ek weet nie of ek weer my draai hier sal kan kry voordat ek moet vertrek nie.”
Baie besig wees die volgende dae, dink sy wrang toe sy weer terug is in die woonstel. Besig met wat? Gebroke drome in pakkies opmaak en dan waarheen pos? Die meubels kan teruggestuur word na die meubelwinkel. Die trourok kan weggegee word, of aan ’n tweedehandse klerewinkel verkoop word. Sy tel die foto op wat op die kassie langs die splinternuwe dubbelbed staan. Waarheen stuur jy foto’s van iemand wat nou aan iemand anders behoort? Na watter adres stuur jy verlore drome en toekomsplanne wat nie uitgewerk het nie?
Sy byt hard op haar onderlip en draai weg van die dubbelbed, stap na die klein spaarkamertjie met sy smal enkelbedjie, en konsentreer hard op verre droomeilande waar die geur van die appelbloeisels en jasmyn swaar in die lug hang, die see so helder is dat jy die kleurryke tropiese visse en korale onder op die bodem kan sien, en die strande witblink in die tropiese volmaan lê met die silhoeëtte van waaiende palms teen die horison . . . en die hartseermusiek van ukeleles en kitare die swoel warm nagte vul . . . en . . . Erika sink in ’n droomlose slaap weg.
Die paar dae wat oor is, gaan tog ook vinnig verby. Die opruiming van “gister se drome”, soos sy daaraan dink, hou haar nogal besig. En snaaks, die aande wat sy so gevrees het, is toe glad nie so eensaam soos sy gedink het hulle sou wees nie. Dit word opgehelder deur ’n daaglikse oproep vanaf die Comore. Getrou aan haar belofte het sy toe sy terug in die stad was, ’n kollekteeroproep gemaak na die nommer wat hy haar gegee het. Sy vrae was kortaf en op die man af en sy het ewe gedwee verslag gelewer van alles, kompleet soos ’n soet skoolkind aan ’n skoolmeester. Maar sy het dit nie agtergekom nie. Hy was iemand om mee te praat. Sy bevel, “Bel my môre weer hierdie tyd,” het sy gehoorsaam. As hy sy geld wil mors om te hoor of die meubelwa toe die meubels kom haal het, en of sy toe die ongebruikte trourok verkoop of persent weggegee het, is dit sy saak, het Erika geredeneer. As hy geld het om te mors, sal sy hom help om dit te mors.
Eindelik breek die laaste aand aan. Môre vertrek haar vlug. Sy bel eers die Collinse om tot siens te sê, beloof oor en oor dat sy sal skryf en bespreek dan die gebruiklike kollekteeroproep na die Comore.
“Het jy ooit nog ’n bed om op te slaap vanaand?”
“Nee. Die woonstel is dolleeg. My buurvrou het aangebied ek kan vannag by haar slaap.”
“Sorg dat jy betyds by die lughawe is, ten minste ’n uur of twee voordat die vliegtuig vertrek.”
“Ja. Goed. My vlug vertrek om agtuur môreoggend.”
“Dit kom hier aan om vyf voor twee in die middag.”
Haar keel wil begin toetrek. Net ses uur . . . Dis ongelooflik! Is net ses uur nodig om van alles af weg te kom?
“Dan sê ek maar eers tot siens.”
“Tot siens, Erika. Ek kry jou op die lughawe van Moroni op Grande Comore om twee-uur môremiddag. ’n Veilige reis.”
4
Van die oomblik dat sy die volgende oggend haar gasvrye buurvrou tot siens gegroet en met die taxi na die busterminus vertrek het, stap Erika ’n nuwe, onbekende en, vir haar, opwindende wêreld binne. Telkens wonder sy of sy nie maar regtig net aan die droom is nie. Maar as dit dan ’n droom is, hoop sy dit hou nog ’n rukkie aan, want dan is dit die wonderlikste, lekkerste droom wat sy al ooit gedroom het.
Skielik voel sy haar deel van die groter wêreld daar buite, daardie wêreld waarvan sy nog net altyd gelees het of in flieks gesien het. Sy is skielik deel van die wêreld van geld.
Haar groot verwonderde oë wat oral rondkyk en almal besigtig, verraai dat sy haar in ’n onbekende omgewing bevind. Sy kom dit nie eens agter nie. Selfs om sesuur op ’n Saterdagoggend is die lughawe so bedrywig soos ’n miernes. Mense met kameras oor die skouer, klaarblyk-lik toeriste, vername mans met snyerspakke en aktetasse, modieus geklede dames met pragtige kapsels, wat self ook soms soos baie professionele sakevroue met aktetasse in die hande vertoon, die aankondigings oor die luidsprekers van vlugte wat van verre lande aankom of wat op vertrek staan na verre horisonne, alles is ’n belewenis wat die doodgewone meisietjie soos Aspoestertjie laat voel.
Die benoude geklop van haar hart in haar keel bedaar mettertyd, want die vriendelike dames van die grondpersoneel van die SAL help haar so mooi om by die regte toonbanke uit te kom dat alles seepglad verloop. En Kersvader Philippe het sy kant ook goed gebring. Haar kaartjie lê en wag vir haar, haar twee middelmatige tasse word ingeweeg en sy kan in die groot vertreksaal vir buitelandse vlugte gaan plaasneem en haar verlustig in hierdie nuwe avontuur wat so onverwags en op so ’n buitengewone wyse oor haar pad gekom het. O, sy wens daardie Japie Basson kon haar nou sien! Dink seker sy lê en huil haar oë oor hom uit, haar hartjie vir altyd gebreek. Maar as hy net kon weet waar sy nou sit . . .! En vir die eerste keer voel sy ’n opregte gevoel van dankbaarheid teenoor die man wat dit alles moontlik gemaak het.
Toe die aankondiging kom dat die passasiers van vlug 326 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens na Malawi en die Comore-eilandgroep moet kom aantree om aan boord te gaan, is daar meteens weer ’n gevoel van paniekerigheid in haar. Sy gaan nou land uit. Wie weet wat wag aan die ander kant? Wie weet of sy ooit weer sal terugkom na haar land? Sê nou maar sy is op pad na ’n vreeslike lot, iets soos om as ’n slavin verkoop te word . . .? Sy het juis net nou die dag gelees hoe jong, onervare meisies weggelok word en dan deur die slawehandelaars aan mans van vreemde nasionaliteite verkoop word as slawe of bywywe. Daar word nooit weer ’n woord van hulle gehoor nie. Hulle verdwyn sommer net van die aardbol af asof hulle nooit bestaan het nie. En niemand sal na haar soek nie. Japie het ’n ander vrou. Die Collinse weet darem, maar hulle sal hulle ook nie juis moeg maak daaroor as hulle nooit weer iets van haar verneem nie. Sy was immers maar vir ’n kort rukkie net ’n gas in hul hotel.
Die dametjie agter die inligtingtoonbank kyk haar verbaas aan toe sy half uitasem voor haar verskyn.
“Wanneer is die eerste vlug weer terug van die Comore af?”
Sy trek ’n tydtafel nader. “Wel, hierdie vlug kom daar aan om vyf voor twee en dit vertrek weer terug om vyf voor drie in die middag. Dit land weer hier in Johannesburg om sewe-uur in die aand.” Sy glimlag. “Maar u gaan tog seker nie net vir ’n uur Comore toe nie!”
Erika sluk aan die knop in haar keel, voel hoe sy rooi word. “Nee, ek . . . bedoel eintlik hoe gereeld daar vlugte van die eiland Suid-Afrika toe is,” jok sy skaamteloos.
“Weekliks. Elke Saterdag.”
“Dankie.” Sy draai om en stap na die ry mense wat deur die hekke na die vliegtuig stap. Sy het ’n uur tyd om dinge daar anderkant goed deur te kyk. As dit nie reg lyk nie, kan sy ’n uur later die vliegtuig terughaal Suid-Afrika toe. Daar sal plek wees. Daar moet net plek wees!
Net voordat sy by die wagte verbystap, aarsel sy nog ’n oomblik. Sy kan nog omdraai . . . Maar toe klink daar ’n stem in haar ore op: “Jy het jou my woord gegee. Ek vertrou jy sal dit gestand doen en nie kop uittrek nie!” Daar was iets in daardie stem wat haar gewaarsku het dat sy dit liewer nie moet waag nie. Hy is kapabel om self te kom kyk hoekom sy nie haar belofte nagekom het nie.
Sy vergeet om bang te wees toe die vliegtuig die lug inklief. Sy is baie banger om daar anderkant aan te kom. Sy kyk verlangend deur die venster na onder waar die aarde al verder wyk en al kleiner word. Sal sy ooit weer haar geliefde vaderland sien?
Die vliegtuig doen Lilongwe aan. Malawi is ’n pragtige land te oordeel na wat sy uit die lug uit daarvan kan sien. Maar dis nie lank nie, dan moet sy haar, steeds met ’n bewerigheid in haar maag, vasgespe vir die laaste skof van die reis. Die volgende landingsplek sal Moroni op Grande Comore wees – waar ’n wildvreemde man beloof het dat hy op haar sal wag . . . en nou voel dit al vir haar dit het soos ’n dreigement geklink.
Sy neem maar min in van wat die lugwaardin aan die passasiers oor die eiland te vertel het. Sy hoor die woorde “Al-Kamar” en “Perfumed Islands”, neem met ’n dowwe verstand en bekommerde oë die manjifieke piek van die vulkaan La Kartala waar, en voel haar maag ’n draai maak toe die vliegtuig met ’n sierlike halfsirkel begin laer sak na die aanloopbaan wat skielik