Ena Murray Omnibus 34. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
op ’n eksotiese eiland, daaraan steur sy haar nie. Laat hulle dink wat hulle wil. Hulle weet nie waarin sy haar begewe het nie . . . en sy ook nie. “Kom ek om, so kom ek om,” fluister sy die beroemde woorde toe sy met bewerige knieë die doeanetoonbank nader.
’n Paar minute later betree sy die ontvangsaal van die lughawegebou. Sy gaan staan botstil teen die muur, wonder of sy nie maar dadelik sal terugglip en vir die mense vra of sy nie die uur voordat die terugvlug begin in die vliegtuig kan omwag nie. Maar haar knieë weier nou volstrek om na enige kant toe te beweeg. Dis net die groot, bang oë wat heen en weer flits op soek na iemand wat lyk soos ’n slawehandelaar. Hoe sal so ’n man lyk? Pankop, jellierige lyf en twee gulsige swart ogies vol onheilige genot. Sy voel sy is self nou al net een stuk jellie van vrees. Wat het haar besiel om so ’n mal perd op te saal?
Die volgende oomblik voel sy of ’n staalpen haar teen die muur vaskap toe sy skielik iemand reg op haar afgestap sien kom. Maar hy lyk so anders as die prentjie wat sy haar pas voorgestel het, dat sy hom net met ’n zombieagtige uitdrukking kan staan en aanstaar. Dis die mooiste, indrukwekkendste mansmens wat sy nog ooit gesien het, rolprentsterre inkluis.
Sulke goed loop nie regtig in wit langbroeke en ligte baadjies en hemde, oopgeknoop tot by die borshare, op hierdie aarde rond nie, vertel haar verstarde verstand haar. Dis goed wat Hollywood met lae grimering en kunstige beligting en fopkamerawerk soms regkry. Maar hierdie kunswerk wat nou hier op haar afpyl, sal selfs hul beste tegnici nie uit ’n gewone man opgetower kry nie. Sulke goed soos dié wat nou voor haar tot stilstand kom – en daar is net een van hierdie spesie op aarde, daar kán net een wees – behoort nie so los tussen gewone mense rond te loop nie. Netnou kry hy seer, kom iets oor . . . en ’n onskatbare kunswerk is vir ewig vir die wêreld – en veral vir die skoner geslag – verlore.
“Erika?”
Hy hoort agter al die slotte van die Reserwebank, of opgestop binne-in ’n glaskas in ’n museum.
“Erika!”
Die perfekte voorbeeld van manlike heerlikheid beweeg nog ’n tree nader, die oë skerp priemend in hare . . . en sy snak na asem.
“Ja, dis ek.”
Die bekommerde frons verdwyn tussen die donker wenkbroue en ’n glimlag flits in ’n ry wit tande in ’n sonbruin gesig, ’n fyn vonkeling in die donker oë. “Jy lyk ’n bietjie . . . e . . . verward. Het jy nie die vlug geniet nie?”
“Nee. Ek voel . . . duiselig.”
’n Arm kom om haar skouers, sy voel die verskuilde krag daarin en wens hy kan maar ’n bietjie meer krag bysit. “Dis net senuwees. Dit sal nou oor wees. Kom. Ek kry eers iets vir jou om te drink voordat ons ry.”
Die trek van die arm om haar skouer laat haar werktuiglik langs hom begin beweeg, maar hierdie keer is sy ’n gewillige lam wat ter slagting gelei word. As sy geweet het alle slawehandelaars lyk so, het sy haarself al jare gelede vir die mark aangebied. Sy giggel skielik en hy kyk weer skerp op haar af, sy stem waarskuwend:
“Toe nou! Toe nou! Moenie histeries word nie. Jy is veilig hier en niks skort nie. Jy is nou by my en alles is reg. Sit!”
Sy sien hom van haar af wegstap en haar blik volg sy bewegings. Sy het eenkeer in een van daardie soetsappige liefdesverhale ’n beskrywing gelees van die held wat soos ’n bedrieglik lui maar gereed-vir-spring oerwoudkat wegstap. Sy het toe gewonder hoe dit moet lyk. Nou weet sy.
Sy knip haar oë ’n paar keer vinnig. As dit alles ’n droom is, moet sy nou liewer wakker word voordat die oerwoudkat terugkom. Sy weet nie of sy hom van nog nader wil leer ken nie. Geen mens kan so volmaak wees soos wat hy blykbaar is nie. Skatryk en ’n droomprins. As sy sy vrou was, sou sy hom aan ’n dik ketting in die agterplaas vasgehou het. Sy frons. Hy het nooit laat blyk of hy getroud is of nie, en sy het nooit die moed gehad om te vra nie, sommer net aangeneem hy is nie getroud nie. Maar hy sal getroud wees, besef sy nou. Geen mansmens wat so lyk, sal vroumense van sy lyf af kan weghou nie. Hy was seker al tien maal getroud en tien maal geskei. Dit moet hel op aarde wees om met so ’n man getroud te wees. Dis nie vir my nie, weet sy. Maar mooi bly mooi, voeg sy by toe sy hom sien terugstap.
Sy sou liewer ’n koppie regte boeretroos, of dan ten minste ’n koppie tee wou gehad het, maar die Krismisvader wat soos Don Juan lyk, dink blykbaar ’n vrugtesappie is net die regte ding vir ’n ontstelde kind van twintig, en sy sluk gehoorsaam daaraan, probeer die oë ontwyk wat haar fyn van die ander kant van die tafeltjie bestudeer. Hy wonder seker nou wat op aarde het hom besiel om so ’n klomp geld op so ’n affêretjie te bestee.
“Ek is bly jy het gekom, Erika. Baie welkom.” ’n Fyn glimlaggie raak so effens aan sy lippe. “Ek weet dit het seker baie moed geverg. Ek waardeer dit.”
Sy kyk hom aan. Nou klink hy kompleet soos ’n volbloed, outydse ridder. Al wat kort, is die wit perd en die swaard aan sy sy. Sy voel weer eens ’n giggeltjie wat borrelgeluidjies in haar borskas maak, maar onderdruk dit met krag. Dis erg genoeg dat hy met die blote oog nou sien waarop hy sy geld gemors het. Dis nie nodig dat sy hom nog verder tot die ontnugtering moet laat kom dat hy met ’n giggelende bakvissie opgeskeep sit nie.
Sy volg sy voorbeeld en klink vir haarself soos ’n goed opgevoede kind wat Matriek in Goeie Maniere met lof geslaag het. “Dis ek wat moet dankie sê, meneer . . . e . . .”
’n Ligte frons skiet tussen die donker wenkbroue in. “Moet asseblief net nie weer daarmee begin nie! My naam is Philippe. As jy klaar is, kan ons maar gaan.”
Sy sit die glas neer, staan op. Waarheen “gaan” is, daarvan het sy natuurlik geen begrip nie, maar al is dit ook na ’n harem of die kolkende hart van La Kartala-berg, weet sy sy sal hom volg. Sy sal nooit die moed bymekaarkry om hierdie man te vertel sy is, of was, van plan om oor ’n uur weer terug te vertrek Suid-Afrika toe nie.
Die lae roomkleurige sportmotor wat buite op hulle wag, pas by hom. Of sý van pas lyk in so ’n swierige motor voor langs hom, is ’n ander vraag.
Sy voel verplig om darem ’n slag iets uit haar eie ook te sê, en vra: “Hoe het . . . jy geweet dis ek daar in die lughawegebou?”
Weer die skalkse glimlag om die mondhoeke terwyl die donker oë vlugtig in haar rigting keer. Sy antwoord is vir haar so duister soos haar nabye toekoms: “Ek kon jou nie miskyk nie.”
Terwyl die motor op pad is na ’n onbekende bestemming, laat hy hoor: “Ons moet net konsensus bereik oor hoe ons mekaar ontmoet het en waar, Erika. Die . . . storie van die bottel gaan vir mense moeilik aanvaarbaar wees.”
Sy frons verward. “Maar dis waar! Ek het ’n bot-”
“Ek en jy weet dit, maar ander mense sal dit belaglik vind.”
Sy kyk met groot oë na hom. “Ander mense?”
Vlugtig keer sy donker blik weer na haar, iets skertsends daarin. “Ja. Ek het jou nie na ’n eensame, afgesonderde eiland weggelok nie, kind. Ons gaan omring wees van mense . . . en mense is altyd nuuskierig.”
Haar frons word dieper. Aan die een kant is dit ’n gerusstelling, aan die ander kant sou dit dalk nie so onaardig gewees het om na ’n eensame, afgesonderde eiland op pad te wees nie . . .
“Ek het gedink ons moet hulle vertel dat ek jou op die strand van ’n klein dorpie aan die Suid-Afrikaanse kus raakgeloop het. Ons het mekaar toevallig daar raakgeloop en het sommer begin gesels, en toe nooi ek jou na die Comore. Dit klink heeltemal moontlik, nie waar nie?”
“Ja, maar dis jok,” antwoord sy bondig. “Ek begryp nie hoekom ons ’n liegstorie moet saamflans net om dit vir ander mense meer geloofwaardig te maak nie.”
Sy besef nie dat daar nog ’n regmerkie agter haar naam geplaas word nie – en dat al hierdie regmerkies haar toekoms ingrypend gaan beïnvloed nie.
Hy knik geredelik, maar sê oorredend: “Eintlik is dit nie heeltemal ’n leuen nie, weet jy? Ons hét mekaar toevallig op ’n klein kusplekkie raakgeloop. Ek was net nie in menslike gedaante nie, maar in bottelvorm. Maar eintlik is dit tog soos