Ena Murray Keur 10. Ena MurrayЧитать онлайн книгу.
is ’n geharde klompie, glo my! Hulle slag ’n bees in ’n japtrap af en verder is hulle net so handig met ’n geweer as hul mans. Dan ook het hulle deur die bank groot gesinne.”
Lille is weer eens stom. Dan kyk sy die goewerneur onseker aan. “En u dink … dink m’sieur Bidault is … is een van hulle?”
“Ek kan nie vir seker sê nie, mam’selle. Dit sal ons moet vasstel. Maar ek ken almal aan die Kaap en hier is nie so ’n man nie. Ons sal dus moet navraag doen.” Sy oë is openlik nuuskierig om meer te wete te kom, maar Lille se gesels het meteens opgedroog.
Wat gaan sy doen as die goewerneur se vermoedens juis is en Philippe Bidault ’n wilde grensboer met ’n groot bosbaard en stink velklere is?
“Ek … ek sal dit baie waardeer, U Eksellensie.”
Om die effens ongemaklike atmosfeer wat skielik ingetree het te verlig, laat die goewerneursvrou vinnig hoor: “Intussen is ons baie bly om so ’n sjarmante gas aan die Kasteel te hê. Hier lê nou ’n hele paar skepe in die baai, en môreaand onthaal ek die skeepskapteins in die balsaal. Ons het ’n puik slawe-orkes. Dié mense het ’n natuurlike aanleg vir musiek. Jy sal môreaand hoor. Ek sal dit so waardeer as jy sal help om die kapteins ’n aangename aand te besorg.”
“Maar natuurlik sal ek, madame. U moet net sê wat ek moet doen.”
“Niks … dans maar net met hulle en hou hulle geselskap. Ek nooi ook ’n paar ander mense van die Kaap. Miskien kan jy nog by een van hulle iets van dié meneer hoor na wie jy soek.”
Die goewerneur maak verskoning en stap dan uit, sy oë peinsend. Dan soek mam’selle Lille Jacquard na ene Philippe Bidault. Hy glimlag skielik. Baie interessant.
Terwyl Lille en die goewerneursvrou in die ruim sitkamer van die Kasteel oor die jongste modes gesels, gaan dit baie vrolik in ou Willemberg se kantien in Dorpstraat. Dit is die bymekaarkomplek van al die gewone mense, en veral gewild onder die matrose van besoekende skepe.
Ook vanaand word die bekers sommer direk uit die dwarslêende vate tot oorlopens vol getap en ou Willemberg se ronde gesig straal van vreugde.
“Hier, m’sieur. Proe van ons Kaapse wyn en sê my of dit nie kan vergelyk met die beste wat jou vaderland kan bied nie!” laat hy hoor en sit ’n groot beker vol voor Louis neer.
Louis neem dit, proe daaraan en kyk dan verras op. “Maar dis heerlik!”
Die kantienbaas glimlag van oor tot oor sodat sy ogies in die baie lagplooitjies wegraak, terwyl Louis weer gretig die beker nader aan sy lippe bring.
In die een hoek is ’n soort orkes oorverdowend aan die speel, terwyl wulpse Kaapse meisies tussen die tafels deur beweeg en onbeskaamd hul bates vertoon. Die hele atmosfeer is een van oordaad en uitbundigheid – dié soort atmosfeer waarin Louis Paquin die gelukkigste voel.
Die matroos langs hom sien hoe hy die een beker na die ander van die Kaapse wyn afsluk, terwyl hy self baie matig by ’n tweede beker hou.
“Sê my, wat wil jy met dié Bidault-vent maak?” vra hy nou.
Louis kyk met besope oë op. Tog is hy nog nie so ver heen dat sy verstand gaan stilstaan het nie. Hy is ’n ou kalant, en ten spyte van die invloed van die heerlike Kaapse wyn, kan hy nog kophou.
Hy antwoord met ’n sleeptong: “Disj my sjake daardie. Kry hom net vir my.”
“Wat betaal jy?” Die matroos is glad nie meer so beleef soos vroeër die aand nie. Hy en hierdie Franse monsieur is nou drinkebroers en dan word standverskille gou oorboord gegooi.
Louis noem ’n bedrag wat enige matroos se oë sou laat rek het.
Dan vernou die matroos se oë weer. “Jy wil hom baie graag in die hande kry. Hoekom?”
Weer skud Louis Paquin sy kop. “Ek het jou gesjê disj my sjaak. Net een ding. Hy mag nie weet ek sjoek hom nie. Versjtaan?”
Die matroos besef dat hy niks verder uit hierdie man sal kry nie, en dis of hy skielik ook belangstelling verloor. Hy staan van die kroegtoonbank op, glimlag skamper.
“Ek wil nou eers vir my ’n mam’selle gaan kry voordat die manne almal wegraap. Wil jy ook een hê?”
Louis draai om en kyk die paar meisies wat nog tussen die tafels rondbeweeg deur en wys na een met ’n rooi rok en baie gewaagde halslyn. “Daardie een. Kry haar vir my.”
Weer openbaar die matroos ’n vrypostigheid wat nie by hom pas nie. “Is jy en daardie mam’selle Jacquard dan nie verloof nie?”
Louis frons kwaai. “Ek ken haar nie, man! Sjy isj een van daardie sjoort wat onder die valbyl moesj beland het. Sjy het ontsjnap. Wil niksj met haar te doen hê nie. Kry vir my daardie meisjie. Sjy kan vra wat sjy wil.”
Die matroos aarsel, draai dan om en wink na die betrokke dame wat gretig nader kom. Eersgenoemde wink net met sy kop na Louis Paquin en maak hom dan uit die voete. Hy trek die vars seelug diep in sy longe in toe hy buite die kantien kom.
Dan, terwyl hy deur die deuropening sien hoe Louis Paquin met die meisie aan sy arm die trap opsukkel na die slaapkamer, begin hy flink aanstap.
Hy pyl af op ’n groot wit huis in ’n ander straat en is nog nie behoorlik die stoep op nie, of die voordeur swaai oop.
“Léon! Ek sit en wag al die hele dag vir jou. Welkom terug. Ek het nie verwag om jou só gou weer te sien nie.”
Die matroos lag. “Goeienaand, m’sieur. Ja, ek het self nie verwag om so gou terug te wees nie.”
“Kom binne en vertel my wat aan die gang is. Watter man was vandag daar by jou wat jy na ou Willemberg se kantien gesleep het?”
“Dit is ene monsieur Louis Paquin. Hy het in Marseilles opgeklim.”
Die ander man kyk vinnig op. “Louis Paquin, sê jy?”
“Ja. Dis die naam. En hy soek na ene Philippe Bidault.”
Nou is daar skerp belangstelling in die oë wat na die matroos kyk. “Interessant. Hoekom?”
“Ek kan dit nie uit hom kry nie. Daarom het ek hom na die kantien gesleep om te kyk of ek nie sy tong met die Kaapse wyn kan loskry nie. Hoewel hy reeds hoog besope was toe ek daar weg is – met ’n mam’selle aan sy arm – laat hy niks val nie. Hy is so glad soos ’n paling.”
“Hm.” Die ander man wink en stap na ’n tafeltjie waar wynkraffies van geslypte glas staan. “Sit, Léon, en vertel my meer. Wat gaan in Frankryk aan?”
Die twee mans neem albei plaas en vir enigeen wat van buite af hierdie toneel beskou, sal dit vreemd voorkom dat die deftige heer so gemoedelik saam met ’n matroos verkeer.
Maar die gesels duur tot laatnag, en dan staan die twee mans op.
“Dankie, Léon. Ons sal maar moet sien wat die toekoms oplewer.” Sy oë glinster tergend. “Noudat jy weer ’n slag matroos was, verlang jy nie terug na die ou lewe nie?”
Maar die ander skud sy kop. “Nee, m’sieur. Ek is u steeds dankbaar dat u my daardie tyd omgepraat het om my saam met u aan die Kaap te vestig. Dit was nogal lekker om weer ’n slag ’n matroos te wees soos in die ou dae, maar noudat ek ouer word, besef ek dis nie ’n lewe nie. Nee, ek is tevrede om hier te wees en u die res van my lewe te dien.”
Die ander man frons. “Dis nie ’n geval dat jy my dien nie, Léon. Ons werk saam. Ons is vennote.”
Daar is verering in die oë wat na die deftige heer kyk. “Ek weet, m’sieur. U was baie goed vir my. Maar ek is bekommerd oor u veiligheid, m’sieur. U moet versigtig wees.”
Die ander man lag, klop Léon goedig op die skouer. “Dis na Philippe Bidault wat hy soek, nie na mý nie! Jy is verniet bekommerd.”
Sy gesig vererns dadelik. “Nietemin moet jy jou ore en oë oophou. Ek ruik êrens ’n slang in die gras. Ek dink jy moet nog so ’n rukkie aanhang