Koors. Deon MeyerЧитать онлайн книгу.
die hele plek is gesluit,” roep Spiere.
Pa lig die pistool asof dit baie swaar is. Hy mik na die voordeur. Ek voel sy hele lyf bewe en brand hier agter my. Ek wonder of Pa ’n man sal kan skiet soos hy die honde geskiet het. Ná Bultfontein het Pa gesê: “Om iemand te skiet …” en toe net sy kop geskud, asof hy dit nie sal kan doen nie.
Die man met die spiere draai weer straatkant toe. “Ja, ja … Nee, ek het nie die … ” sê hy. Hy maak nie die sin klaar nie, hy luister wat Langhaar sê.
“Okay,” sê Spiere en lig sy rewolwer weer op.
Hy skiet ons voordeur se slot. Die geraas, die hout en pleister wat spat.
Pa hou die pistool op die deur, en sy hand oor my mond.
Spiere draai net om en loop weg, af met die trappies, na die Jeep toe. Langhaar kom aan van die ander kant af. Spiere klap die vrou teen haar kop. Hulle klim in die Jeep, skakel die enjin aan en ry weg.
* * *
Ons lê ’n ruk net so, in die sitkamer. Pa se asem is vinnig. “Ek is jammer, Nico, ek het gehoor jy roep my, maar ek het gedink dit is ’n droom.” Hy fluister. Hy het my geleer dat klank altyd verder trek as wat ’n mens dink. Veral nou, ná Die Koors, want daar is nie meer ander geraas nie.
“Jy het baie goed gedoen,” sê hy. “Jy kan trots wees op jouself.”
Later staan ons op. Hy drink baie water uit die kraan uit, ek maak die sop warm op die gasstoof. Baxters Cream of Chicken.
Ons eet. Pa sê: “Ons kan nie lig maak vanaand nie – ons weet nie hoe naby hulle is nie.”
“Ons sal nie môreoggend kan koffie drink nie,” sê ek. Want koffie se reuk is ’n menseverklikker. Dit het Pa my ook geleer.
“Dis reg.” Hy probeer glimlag, maar dit lyk of sy kragte net-net te min is.
Ek eet my sop klaar.
“Ek voel beter,” sê Pa.
Hy jok. Hy kan sien ek glo hom nie.
“Môre gaan ek sommer baie beter wees,” sê hy.
“Okay,” sê ek. “Daai ooms het ’n tannie aan die Jeep vasgemaak.”
“Ek het gesien. Ons gaan môre iets daaraan doen.”
Ek lê die hele nag langs hom. Hy praat baie in sy slaap. Twee keer roep hy my ma se naam uit: Amelia.
6
Die verlede is ’n rivier
Dit is Pa wat gesê het die verlede is soos ’n rivier. (Dit was in die Jaar van die Vark, as ek reg onthou. Ek was sewentien.)
Ons was deel van ’n groter groep mense wat een Sondagaand tot laat gesels het in die Forum en toe ek en hy en Okkie huis toe stap, het ek hom gevra hoekom praat almal nog steeds so baie oor Die Koors, dis tog verby, vyf jaar al.
Toe sê hy: “Die verlede is soos ’n rivier, Nico. Ons kan nie al die water onthou wat verbygevloei het nie. Daarom, as ons terugdink, kyk ons eers na die opdrifsels, daardie stukke detritus wat die storms en die vloede hoog teen die walle agtergelaat het.”
“Ek verstaan nie wat Pa sê nie,” het ek ergerlik geantwoord. My verhouding met my pa was al stukkend, en ek was ’n tiener, grootmense het my oor die algemeen geïrriteer.
“Ons onthou die oomblikke van groot trauma die beste. Vrees, verlies, vernedering … Jy sal sien, eendag.”
Nóú sien ek. Nou, terwyl ek hierdie memoires probeer skryf, noudat ek álles wil herroep, nie net die trauma nie. Ook die gebeure tussenin. Dit is nie so maklik nie. Ek het Auden en Heinlein oor die outobiografie aangehaal, want die slaggate wat hulle uitwys, is eg: Wanneer dit kom by die geheue-rivier se meer troebel waters, is jy aangewese op jou eie, soms onbetroubare en bevooroordeelde herinneringe, en die vertellinge van ander. Jy is blootgestel aan die drange (en vrese) van die ego, wat net sekere gebeurtenisse wil insluit. Ander wil uitlaat.
Laat ek dit dus onomwonde beken: Hierdie is die storie van wat ná Die Koors gebeur het, soos ék dit onthou. My waarheid. Dalk subjektief, dalk effe krom. Maar ek is feitelikheid en eerlikheid verskuldig aan almal wat deel is van dié storie, veral hulle wat nie hier is om hul eie getuienis te lewer nie.
Waarheid was my grootste enkele dryfveer. Dit sweer ek.
7
22 Maart
Ek slaap langs my pa. Hy word verward wakker, in die vroegoggend, vervaard, sy hare en sy oë wild en deurmekaar. Dit neem hom ’n oomblik om my te herken. Hy lyk kleiner, skraler, hy lyk in hierdie blootgestelde oomblik wondbaar en breekbaar en feilbaar. Maar dit is asof ek dit nog nie kan sien nie. Nog nie wíl sien nie.
Ek gaan maak vir ons hawermoutpap. Pa eet in die bed. Dankbaar. Hy sê: “Eendag sal ons weer vars melk proe.”
Hy sê dit baie.
En: “Ek behoort darem môre gesond te wees, Nico.”
“Dan ry ons weer, Pa?”
Hy skud sy kop, stadig. “Nee. Dit is waar ons gaan kom bly.”
“Hier?”
“Nou nie hierdie huis spesifiek nie. Daar is baie om van te kies. Ek bedoel, hierdie plek, hierdie dorp.”
“Maar wat van daardie ooms?” Ek wys straat se kant toe, waar die Jeep gestaan het. Ons praat steeds gedemp, asof hulle baie naby is.
“Hulle is … ’n komplikasie.”
“’n Komplikasie?”
“Dit is ’n interessante woord. Ons kry dit uit die Latyn. ‘Complicare’ …” Pa haal eers ’n paar keer asem, asof hy sy kragte bymekaar maak. “Dit beteken om saam te vou. Jy weet, as jy iets vou, dan maak jy dit mos meer ingewikkeld.” Hy probeer om sy ou geesdrif te vind: “Oulik, nè, hoe taal werk. Kompliseer beteken om iets meer ingewikkeld …”
“Hoekom gaan ons nie net na ’n ander plek toe nie?”
“Want ek dink Vanderkloof is die beste plek in die hele land. Vir ’n nuwe begin.”
“Hoekom?”
Pa eet die laaste van sy pap. “Maslow … Al die basiese behoeftes. Hier is struktuur en tekstuur …” Hy sug. Hy is moeg. “Dis ’n lang storie. Ek sal vir jou mooi vertel, môre. Ek belowe. Reg so?”
“Okay.”
Hy gee sy leë papbord aan, en skud pille uit die botteltjie. “Ek gaan weer lê. Onthou om jou tande te borsel.”
* * *
In die middag hoor ek Pa praat. Ek gaan kyk in die slaapkamer waar hy lê. Hy het al die komberse afgegooi, hy sweet, hy yl, wilde woorde in ’n bang stem.
Dan word hy wakker. Hy kom meteens orent, hy draai sy lyf sodat hy nie op die bed mors nie. Hy gooi op oor die vloer.
Ek help hom om skoon te maak. “Jammer, Nico,” sê hy. “Jammer, jong.”
Ek maak die aand sop warm, maar Pa slaap deur alles.
Die Jeep kom nie terug nie.
Dit is verskriklik warm en benoud in die huis.
8
23 Maart
In die oggend word ek wakker, maar my pa slaap net.
Ek eet beskuit, ek drink water, ek kyk by die vensters uit, ek luister, ek kan nie stilsit nie, iets laat my drentel en dwaal, iets meer as verveling, meer as die vae bang wat ek gister gevoel het. Ek is dertien, ek het nie die vermoë om dit te prosesseer nie.
Ek staan voor die sitkamervenster. My hart begin klop, my hande sweet, die aarde sluk my, die lug druk swaar op my, die dag, en die mure.