Boerumoer. Sarel PieterseЧитать онлайн книгу.
die bank sit.
Ja’k, die huwelik is op sy beste maar ’n bokker. Daar lê ou Geesie ook nou in haar graf en nou dink ou Neels hy het gewen.
Dis met die hoedbesigheid dat die affêre met Geesie en Neels skeef beginne neuk het en van toe af was dit al die pad net afdraande. Nie een wou bes gee nie. Ek dink die eerste een wat sou kom met die voorstel om te skei sou daarmee erken dat hy die handdoek ingooi en daarvoor was hulle twee te hardekop. Maar ek loop die ding nou vooruit.
Jong, ’n huwelik is gewoonlik grondpad, sinkplaat en al. Maar daai twee was nou wraggies sommer op ’n boendoepad en al twee wou hom enduit ry.
Ek is nou nie ’n ekspert met die huwelik nie. Ek was net met een vrou getroud en party dae was dit al erg genoeg. En jy weet mos wat Langenhoven oor ’n ekspert sê – ’n ekspert is iemand wat al meer van al minder leer tot hy alles van niks weet nie.
Vrou vat is seker baie soos ’n nuwe motorkar koop. Jy begeer hom tot jy genoeg moed en geld bymekaarskraap en dan koop jy hom. En die eerste ruk ry hy alte lekker tot jy hom gewoond raak en dan vee jy nie meer elke ou stoffie af nie of jy kyk nie meer of hy ’n skrapie bygekry het nie en so. Dis gewoonlik wanneer jy nie meer soveel aandag gee nie dat die kar begin petrol vreet en olie gebruik en sy uitlaat brand nie meer so wit nie. Al die moeilikheid wat jy gedink het die kar nooit sal hê nie kom dan te voorskyn.
Met die huwelik gaan dit ook so. ’n Ruk lank gaan dit goed tot die verliefdheid verby is en dan gaan dit gewoonlik net slegter, soms baie slegter, voor dit vorentoe weer beter gaan.
Die geleerde mense sê mos as jy en die vrou moeilikheid het, moet julle eintlik saam die probleem identifiseer. Dis nie ’n kwessie van ek teen jou en jy teen my nie, dis ons saam teen die probleem. Maar Geesie en Neels het vas geglo die ander persoon is die ware probleem.
Met Geesie en haar ma het ek gesien suinigheid is oorerflik. Piet Paptyre wil mos gaan uitvind of sy epilepsie oorerflik is, maar in Geesie se geval is daar min twyfel. Haar ou ma was mos alombekend vir haar suinigheid. Eintlik was sy sommer pleinweg ’n vrek.
Ds. Oosterkamp en Patat van Zyl, wat toe nog ouderling was, is op ’n keer hier in die distrik in met huisbesoek en so land hulle een middag daar by Geesie se ma op die plaas.
En daai tante was ongemaklik gebou – twee van hierdie groot petroldromme op mekaar met twee vuurhoutjies vir bene wat onder die kuitrok uitsteek. Van agter af het dit gelyk of sy twee wolbale vir boude had en as sy omdraai, dan sit daar nog twee hoog voor. Seker vir balans.
Ewenwel, oor sy hulle nie te wagte was nie, laat sit sy hulle in die voorkamer terwyl sy koffie aanmekaarslaat. En toe sy die skinkbord aandra, toe staan daar net twee koppies swart koffie op, te suinig om vir haarself te maak en uit gasvryheid saam te drink.
Sy vra hulle toe of hulle suiker by sal vat. Ja, sê albei, twee suiker vir elk.
Om die tante se nek is so ’n riempie wat voor by haar hals inloop. En sy trek daar aan die riempie en hier uit die vallei van ’n duisend heuwels haal sy so leertwaksakkie te voorskyn wat heeltyd onsigbaar was. En daaruit skink sy vir elkeen, volgens haar maat, suiker – omtrent twee korrels per koppie.
“Verskoon tog, dominee,” sê sy, “die kinders is maar erg oor suiker en ek moet dit maar bewaak dat hulle nie hulle hande daarop kry nie.” En sy laat sak weer die sakkie terug hier voor by haar rok in. En sy gee hom net so twee kloppe en die sakkie is sommer onsigbaar weg, verskuil in die voue van haar gedaante.
Uit ordentlikheid roer die twee maar die paar krieseltjies suiker net voor die tante weer vra: “Melk?”
Nee, sê al twee kerkmanne gelyk en keer sommer met hul hande oor die koppie, te bang die melk kom dalk uit dieselfde klowe waar die suiker verskuil word.
Kyk, Geesie was nie naastenby so erg soos haar ma toe sy met Neels getrou het nie. Dis met die droogte dat sy eers haar kleure begin wys het. Vir almal was dit daai tyd maar noustrop, maar oor Geesie van kindsbeen af ’n voorbeeld van spaarsamigheid in haar ma had, het sy ook so geraak. Net erger.
Jong, die son het Neels se ou plaashoed so erg verbrand dat dit later meer gat as hoed was. Met dié hoed het die eerste rêrige bitterte begin. Hy het begin praat van ’n nuwe hoed, maar volgens Geesie was dit te spandabelrig. Sy het laslappies oor die gate gewerk tot daar later nie meer hoed oor was nie en dit gelyk het of Neels ’n kopdoek dra. Selfs sy kon sien dat ’n ander hoed al genade was.
Maar nee, g’n nuwe hoed nie. Geesie het haar voet dwars gesit. Sy het Neels verplig om haar ma se ou kerkhoede daar op die plaas te dra. Oor daar nie eintlik geld was nie kon Neels nie anders as om in te gee nie.
Nou bid jou aan. Ek het dit nie self gesien nie, maar ek stel hom nou sommer vir my voor met so swart pildosie op die kop met so netjie half oor sy gesig waardeur sy snorbaarde steek. So moes Neels soggens uit die huis uit en so moes hy voor sy werksmense verskyn. Wat hulle seker nie alles agter sy rug vertel het nie! Ek kan my indink dat hulle die eerste paar dae gebars het om die lag in te hou, want Neels is ’n stewige kêrel en hy laat nie vir hom lag nie, veral nie deur sy werkers nie.
En in die somer moet hy weer die breërandhoed dra, die een met die vrugtekoek op waarin daar aan die agterkant nog ’n pouveer soos ’n palmtak staan.
Neels was so verneder dat hy diep in sy hart wraak gesweer het, maar Geesie se suinigheid het aan hom ook afgesmeer.
So paar jaar later het ons mos ’n nuwe tandarts op die dorp gekry. Neels was een van die eerstes daar.
Hy doen toe navraag; hy wil twee tande laat trek, maar hy wil eers weet hoeveel dit gaan kos. Die tandarts werk daar op ’n papiertjie uit en hy sê die prys kom op agthonderd rand te staan. En daar ontplof Neels omtrent. Dit was, volgens hom, nie net duur nie, dit was sommer ’n uitspattige hoë bedrag.
“Wat het jy daar op die papier geskryf?” vra hy, want so prys kon net boereverneukery wees.
“Nee,” sê die tandartsie, “behalwe nou vir die arbeid is dit R150 vir die neem van plate om te kyk of daar nie dalk ’n abses op een van die tande is nie.”
Van suinigheid raak Neels amper onbeskof. “Nee,” sê hy, “daai koste kan jy maar wegvat, jong. Dit betaal ek nie. Ek en die antie borsel gereeld. Ons het nie asbes of watsegoed op ons tande nie. Nie ’n sent daarvoor nie. Plate is in elk geval goed wat jy op ’n grammofoon speel, man. Dit kan jy maar los. Wat het jy nog daar geskryf?”
Die tandarts sê toe dat dit nog R150 is vir die doodspuit van die tande. Hulle moet verdoof word voor hy dit kan trek.
Neels kyk toe sommer eenkant toe en waai so slap handjie na die arts. “Kyk, jong, ons is bloedfamilie van die agtertangse Van Helsdingens. Die ou bietjie pyn kan ons vat, man. Watse gedoodspuit? Ons wil in elk geval nie die tande dood hê nie; ons wil hulle uit hê ,“ verhef hy sommer sy stem. “Daai koste kan jy maar heeltemal wegvat. Wat het jy nog daar geskryf?”
“Dan is dit nog R100 vir die gebruik van die spesiale instrumente om die tande mee te trek,” sê die tandarts.
“Nee, nee, nee …” gaan Neels weer af. “Hou jy maar jou instrumente. Ek sal daar van die plaas af sommer ’n draadtang saambring. Daai tang kan tande net so goed trek soos jou instrumente. Jy kan maar die instrumente se koste heeltemal wegvat. Ek bring my eie gereedskap. Het jy nog iets geskryf?”
Dis was al of die mannetjie wou skrefiesoë maak voor hy sê: “Dit is nog R150 vir die ontsmetting van die wonde.”
Neels was moedeloos: “Jy verstaan nie, boet. Daar is niks beter as ’n ou brandewynwattetjie vir die ontsmetting van enige wonde nie en dié verskaf ek sommer self. En dan help dit nog vir die pyn ook. Ek betaal g’n niks vir ontsmetting nie.”
Nou moet jy verstaan, daai tandarts was nog nie lank hier nie, maar hy was self besig om goed moerig te raak oor Neels se inhaligheid. Hy maak hom toe ’n voorstel. Neels moes sy draadtang van die plaas af bring en dan sal hy daai tande vir hom, op Neels se manier, teen R100 stuk trek.
Vir Neels was dit ’n wonderlike winskoop. Dit kan mens nie verby laat gaan nie. “Nou