Boerumoer. Sarel PieterseЧитать онлайн книгу.
nou kan jy jou indink hoe dit onder Neels se dak moes wees ná Geesie se tande op dié manier getrek is. Hulle was vanselfsprekend permanent van tafel en bed geskei. Maar dink net aan die bitterte in daardie huis. Later wou niemand meer daar kom nie, want die besoekers het die speelbal geword om die ander te verkleineer.
Genadiglik was die twee seuns in hul laaste jare op kosskool en hoef hulle nie elke dag die uiterstes van ’n galbittere huwelik te trotseer nie. En vir kinders wat uit so ’n huis uit kom, was hulle nogal ordentlike klonge. Eienaardig genoeg het hulle ook goed met Neels oor die weg gekom, maar ek dink nie daar was so sterk band met ou Geesie nie.
Dis net ná die tandetrekkery dat Geesie met haar voorpratery begin het. Dalk het Neels nog skuldig gevoel oor die tande, want hy het dit toegelaat en later was dit amper ’n gewoonte dat dinge maar so gebeur.
Die seuns sou inkom en vir Neels vra of hy nie die Saterdagmiddag saam met hulle by die drif wil gaan visvang nie. Sodra hy sy mond oopmaak om iets te sê, spring Geesie met haar kras kraaistem hom voor: “Nee, Pappie sal nie vanmiddag gaan visvang nie.” En sy’t dit altyd laat klink of dit ’n vreeslike jammerte is.
Anderdag vra hulle weer of hy nie wil saamgaan na oom Dawid Rooikloof toe nie. Hulle wil bietjie by sy seuns gaan kuier en as Pappie hulle nou met die bakkie vat, kan hy sommer bietjie by oom Dawid kuier. Nes Neels wil praat, is Geesie hom weer voor: “Vat julle maar die bakkie. Pappie sal nie vandag by oom Dawid gaan kuier nie.”
Hoe Neels dit uitgestaan het, weet die hemel alleen. Genoeg om enige mens rasend te maak, maar hy het uitgehou.
En toe, eendag … Geesie het een môre net nie opgestaan nie. Sommer so in haar slaap dood.
Dis amper ’n wonderwerk dat Neels dit dieselfde dag opgemerk en gaan ondersoek instel het. Miskien het hy heimlik gehoop sy het haar goed gevat en geloop en hy wou net seker maak. En daar kry hy haar toe in die kamer. Die eerste ding wat mos by mens opkom, is skrik, maar die res van die dag, sodra Neels aan Geesie dink, was dit al of hy Ps. 146 se wysie wou neurie: “Prys die Heer met blye galme …”
Ewenwel, enkele dae later met die begrafnis, seker so uur voor die tyd, toe soek die seuns vir Neels oral daar op die plaas, want hulle moet ry om betyds te wees. En waar kry hulle hom? In die sitkamer, bier in die hand, skoene uitgeskop, voete op die bank.
Eers was hulle stomverbaas, maar toe por hulle vir Neels aan dat hulle moet haastig maak en dat hulle gaan laat wees vir die begrafnis. Toe Neels praat, toe klink dit kompleet soos Geesie wat die woorde spreek: “Nee, gaan julle maar. Pappie sal nie vandag begrafnis toe gaan nie.”
lewe ná die dood
“Jong, as jy dood is, is jy dood,” sê oom Gysbert. “Niks van bietjie dood of halfpad dood of heeltemal dood nie. Daar’s net een ding en dit is morsdood vrek.”
Vir ’n oomblik kyk hy my skewekop aan net om seker te maak ek wil nie altemit debat voer oor sy stelling nie. Toe vertel hy:
Ek het nog altyd gedink almal verstaan die dood is finaal, maar ek het my misreken. Was dit nie dat hy ’n stappie te ver gegaan het nie, het ou Peet my sweerlik tot sy beskouing bekeer en amper het ek ook die drumpel oorgesteek na kens wees.
Ou Peet is al ’n ou man, by die negentig, maar tot vandag toe lewe hy nog dat dit so vrek. Jare terug het hy die boerdery aan sy oudste seun oorgegee, maar toe sy kleinseun later die grond oorvat, het hy eerder hier by sy dogter op die dorp kom bly.
Drie geslagte onder een dak werk nooit uit nie.
Terwyl ek anderdag nog so op die stoep sit, staan ou Peet skielik met so dik boek vol notas en papiere by die tuinhek en ek sien sommer daar’s ’n bedruktheid oor hom. En ek maak die hekkie oop en ons groet en ek vra of hy dan nou met daai klomp papiere kom verkiesing veg hier by my. My politiek is reg, plaas ek hom klaar op die agtervoet. Nee, sê hy, hy’t gekom oor ’n baie belangrike saak en ek is die enigste mens wat hy daarmee sal vertrou.
Kyk, as iemand só praat, vermoed ek twee dinge – geld- of ’n hofgedoente. Van die een het ek min en van die ander bly ek so ver as moontlik weg.
Maar ou Peet sê toe hy tref die finale reëlings vir sy begrafnis. Hy voel al jare lank die tyd haal hom in. Daarom het hy gaan sit en alles opgeteken oor hoe dinge moet gebeur en nou lig hy almal wat ’n rol moet speel oor hulle funksies in. Hy sê die ding wat hom daartoe gedryf het, was die breekspul wat ons met ou Willem Dassiekraal se weglê moes aanskou.
Op die kerktreetjies het die draers mos onklaar getrap en daar is Willem teen die skuinste af en hy val met sy dik lyf sommer die kis van binne af flenters. Ná ons vir Willem teruggepak en die kis se een sykant weer stewig vasgekap het, toe is dit plaas toe vir die teraardebestelling. Maar ’n ystervark het deur die nag in die graf geval en toe ons daar kom, dreig die gedierte ons almal en ons moes net koes toe hy wil penne skiet.
“Só,” sê ou Peet, “moet dit nie by my begrafnis gaan nie.”
Jong, ek nooi vir Peet stoep toe en laat hom sit en ek skink eers daar vir ons elkeen ’n fris dop dat ons nugter oor die saak kan dink. Is dit nie onkristelik om die dood sommer so vooruit te wil loop nie? Om voorsiening te maak, is een ding …
Maar ou Peet byt soos ’n snoek aan ’n hoek. “Gysbert,” is hy plegtig, “dit is my laaste wens dat jy die owerste moet wees om toe te sien dat dinge presies gebeur soos ek dit vandag vir jou uitlê.”
Ek probeer nog hierdie kant verbyglip en daardie kant toe keer en om sy aandag weg te lei, klink ek sommer glasies met hom, asof ons die okkasie vier, en ek vat ’n lekker sluk sodat hy moet volg, maar Peet het net een gedagte – rigting noord …
“Hier,” sê hy, en gee my die boek met los papiere aan. “Daar het ek alles neergeskryf oor hoe en wat moet plaasvind. My dogter, Susarah, sal alles reël, maar jy is die enigste man wat ek sal vertrou om toe te sien dat dit so gebeur. Ek het besluit daardie eer kom jou toe.” En soos hy my die boek aangee, bly sit hy sommer so vooroor of hy wil hê ek moet dadelik wegval sodat hy my kan help lees en interpreteer, waar nodig.
“Dankie, Peet,” sê ek, en vat die boek, “ek sal daardeur werk en waar ek vrae het, sal ek kom vra.” En ek sit die boek op die stoeptafeltjie neer en dag by myself: eer nogal. Soos dit vir jou ’n eer moet wees as ek jou kommandeer om my tuin te kom omspit.
Man, ek het gedink ek kan ou Peet se attensies afmaak deur die boek uit die oog te sit sodat ons meer aandag aan die brandewyn kan gee, maar daar raak hy sommer ongeduldig met my. “Gaan jy nie nou lees nie?”
“Nee,” keer ek ewe uit die veld. “Ons kuier mos nou ’n bietjie, en brandewyn en gewigtige sake is nie maters nie.” Maar ek sien sommer hy wantrou my motiewe en toe voeg ek kastig by: “Dis al skemer. Ek kan net by helder daglig lees.”
Daar sug die ou dat dit klink hy blaas sy laaste asem uit en hy sit agteroor en hy proe-proe aan sy glas voor ’n gedagte hom te binne skiet: “Maar in daardie geval vertel ek jou sommer.” Jong, en daar trek hy weg laat ek voel of ek skaars grondvat.
“Kyk, jou werk begint eers as die kis uit die kerk gedra word. Die orrel sal dan daardie ding speel wat ek vir hulle gesê het. Dis ’n marsbesigheid. Ja, die trou- … Nee, man, die dodemars of iets. Los jy dit maar. Ek het klaar gereël.
“Nou kyk, my seuns Lodewyk en Theuns dra voor en Petrus regs agter. Hotagter dra my kleinseun, Klaas. Hy’s sterk. In die middel dra my neefs Gawie en Dries, maak nie saak watter kant nie. Nee, laat Dries eerder met sy linkerhand dra, want hy kla hoeka hy kan nie meer met sy regterhand skryf nie oor die jig hom so opkeil. En Gawie dink nie aldag meer helder nie. Keer hom as hy sommer self voor wil vat, want vir al wat ek weet, beur hy met my slagpale se kant toe.
“En as die kis nou veilig in die lykswa gelaai is, moet jy solank vooruit ry plaas toe voor die lykstoet daar aankom. Daar moet jy kyk dat die werksmense se honde vasgemaak is soos ek hulle aangesê het om te doen. Ek wil nie ’n geblaffery om my ore hê by my eie begrafnis nie. Erger nog, sê maar een brak kry die kans om teen my kis te kom been lig. Dink net hoe gaan dit nie later daar onder