As die wind kom draai. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.
keer eers wil uitvind wie iemand se voorgeslag is, sal ons in hierdie land dalk nooit met mekaar praat nie.” Weer huiwer sy effens, versit haar voete, vee die lang vlegsel terug oor haar skouer en vervolg: “My ma het gesê my pa praat deur sy nek, hy dink nie altyd voor hy praat nie.” Sy lag lig. “Ek het nog gewonder hoe dit lyk as iemand deur sy nek praat.”
“En jy?” vra hy asof hy haar laaste opmerking nie gehoor het nie.
“Wat maak dit saak waar mens vandaan kom? Jy is wat jy is. Ek het nie my ouma of my oupa gekies nie, en ek kan tog nie vir die Here kwaad wees oor ek is wat ek is nie.” Sy glimlag. “Seker ook nie vir my ma nie.”
Hy lag effens verlig, sien hoe sy oor die vallei tuur, en hy kyk na haar asof hy nooit daarvan sal kan moeg word nie.
3
Vryheid voel dat hy byna ongeskik lank na Magriet staan en staar. Daarom kyk hy ook ondertoe, asof hy dit vir die eerste keer aanskou. Die bergkom waarvoor hy nooit sal kan moeg word nie. Dit lê voor hulle voete soos die bakhand van ’n groot man, die blink spruit kronkel ’n lewenslyn oor die palm, die rante sit soos eelte, en die berge is veilige vingers óm hulle.
“Nou verstaan ek eers hoekom hulle ons wyk die Berglandwyk noem,” sê sy ingedagte. “Soos ons gister van die dorp af getrek het, lê die hele wyk amper van Mooirivierdorp af tot anderkant Rietpoort hierdie kant soos ’n reus se sopkom in die grond.”
Hy lag. “En die berge is stukke brood in die sopbord.”
Die Berglandwyk met die Vaalrivier wat soos ’n sekel daardeur vloei. As hy reg onthou, het Lourens gesê hierdie wyk van hulle is groot, maklik ’n stuk of twaalf plase. Rietpoort, het Lourens gister gesê, is ook nog in die Berglandwyk, al is dit uit die berge uit. Lourens sal weet, want hy dink daaraan om hom verkiesbaar te stel noudat dié wyk se veldkornet oorlede is. Veldkornet Lourens van die wyk in die berge, dink Vryheid. Klink nogal belangrik.
“Word mens nie bang tussen so baie berge nie?” dwing sy hom terug na ’n gesprek toe.
“Hoe kan ’n mens bang word, die kom beskerm jou dan?”
“Dit voel of dit my vasdruk,” erken sy, “jy kan nêrens heen vlug nie.”
“Hier is honderde wegkruipklowe in die Bergland.” Hy lag. “Waarvoor sal jy wil vlug?”
“Vir jou miskien.” Sy glimlag en spot met haar mooi oë. “Ons is nie meer kinders nie.”
Hy is te verleë om aan ’n antwoord te dink. Die fyn meisiekind gooi hom skoon onderstebo. “In die Kango het ons tussen die berge grootgeword,” sê hy uiteindelik.
“Ek onthou net die vlaktes van die Groot-Karoo – maar dis ook al lank terug.”
“Sussie! Grieta!” Die stem breek van ongeduld.
Dan sien Vryheid hom tussen die bome deur aankom, die lomp man met die hoed wat tot op sy groot ore getrek is, die slap rand wat soos ’n lap om sy gesig hang. “Ma sê jy moet dadelik wa toe kom.”
Vryheid onthou hom nou. Haar jongste broer, maar hy moet heelwat ouer wees as sy, selfs ’n jaar of wat ouer as hy wat Vryheid is.
“Ek kom, Boetie,” en onderlangs vir Vryheid: “Dis my jongste broer, Bennie.” En nog sagter: “Sien ek jou weer?”
“Ek hoop so,” antwoord hy oorhaastig.
Soos hulle van hom af wegstap, hoor hy Bennie Prinsloo se dik stem: “Vir wat staan jy weer met die volk en praat?”
“Dis nie volk nie, dis Vryheid. Jy onthou hom mos?”
“Hy’t nie eers ’n van nie. Ma sê hy’s nie een van ons nie,” brom hy, en hulle loop dieper die kloof in op, huis se kant toe waar hulle hulle wa onder die hoë witstinkhoutbome uitgespan het.
Vryheid bly staan. Hy kan die woorde nie verder hoor nie, al hoor hy hulle nog praat. Vir Magriet Prinsloo, dink hy, sal hy nie maklik weer sien nie.
Die elande het die newels in geloop. Kan dit sy oë wees?
Die bekende gloed van opstand kom soos ’n naarheid in hom op. Hoe het sy nou weer gesê? Sy kan tog nie vir haar ouma kwaad wees nie.
Is dit dan sonde as jou ma ’n slavin was? Is dit my skuld as ek nie ’n van het nie? Al het ek by Vegkop saam met hulle geveg?
Vryheid skop sy frustrasie uit teen ’n graspol, die wind vat die stof weg van hom af . . .
Wind?
Dis sterker as vroeër. Wes. Is dit maar net weer die droë Augustuswind? Hy kyk na die berg wes van die kloof, daar is nie wolke nie. Tog?
Dié wind is vuur se vennoot.
Vryheid bly stip na die bergtop kyk. Verbeel hy hom of is daar ’n mistigheid oor die berg? Onder in die vallei het die wind die mis verdryf. Die elande drom saam, snuiwend teen die wind. Hy kyk weer berg toe.
Voëls vlieg vervaard verby.
Donderweer dreun ver weg, dan eers die donkerder wolk sku oor die berg.
Reën?
4
In die holte begin stof by die trop elande uitslaan. Eers ná ’n rukkie besef Vryheid dis nie van die skielike wind nie, dis die elande wat rusteloos maal en windaf begin beweeg. Al vinniger. Die stof stuif onder die hoewe uit soos hulle kop in die lug met flappende nekvelle en oop neusgate begin vlug. Waarvoor weet hy nie.
Ver weg in die weste, agter die berge links van hom, dreun dit dof. Die beduidenis van ’n weerligstraal. Toe eers begin gryswit wolke oor die bergtop frons. Hy hoor die wind harder deur die blare ruis, al harder. Die wolke word donkerder, die wind swiep oor die lang, droë gras. Skel skreeu ’n arend swewend op die wind. ’n Silwer straal blits teen die boonste kranse vas, dit rammel en eggo brommend die vallei vol. Die voëls in die lug word meer, swart spikkels op vlug voor die storm uit.
Vryheid verstom hom aan die skielike skouspel van weerligstrale wat van klip tot klip spring en teen die kranse klap, bome wat wild in die wind buig.
Uit die oorkantste berghang bars ’n trop wildebeeste soos mal vee die skuinste af, sterte in die wind, die koppe gerig op die ontsnaproete voor hulle, verby verwonderde hartbeeste. Hulle merk die mens nie eens op nie. Koedoes beur sierlik onkeerbaar oor die valleivloer. Die wolk wat donkerder en dikker word, meng met suile stof. Alles in een rigting, weg van die weer af na die enigste uitgang, oos uit die vallei.
Tog bly die reën weg.
Blitse vonk soos vuurvoorslae uit die wolke, donderslae soos geweerskote oorverdowend om hom. Die oggend raak onheilspellend donkerder. Hy weet hy moet skuiling soek, maar die wonder gryp Vryheid vas. Dis nie sy eerste donderstorm op Skuilhoek nie, maar só uit die bloute het hy dit nog nooit beleef nie.
Waar skuil ’n mens en waar vlug jy heen?
Hordes hoewe vertrap die vallei in hulle angs. Regs van hom, skaars vyftig tree, breek ’n renoster bome soos droë stokkies in sy pad vallei toe.
En die reën bly weg.
Kan ’n storm só skielik en só droog wees?
Dit knal in die bome rondom hom.
Dit blits bo teen die berg, soos ’n vuurslag wat deur tontelbos bars. Rook uit die bergtop uit? Die droë gras vat vlam, en vlamme struikel voor die wind teen die hang, die geluid oordonder selfs die woedende wind.
Veldbrand!
5
“Lourens!” gil Vryheid. “Lourens! Die weer het die veld aan die brand geslaan! Kom gou, Skuilhoek brand,” maar hy bly staan totdat die blits langs hom teen die klippe skiet en die vlamme soos krampende vingers na die lang gras gryp.
“Vader van genade!” Hy gly, vlieg op en hardloop.
Is Magriet al by hulle kamp naby die huis? Seile soek nie vuur nie, dink hy verward in sy haas.
Hy