Inboekeling. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.
verskil net twee jaar van mekaar, albei tog aantreklik en hubaar. Engela se ligte hare hang tot laag op haar rug. Hy het nog altyd gewonder watter een van die twee hy uiteindelik gaan kies.
Agter Engela, soos ’n swart skaduwee, gaan die jong inboekeling uitdrukkingloos staan en staar met groot, wit oë van diep uit die swart kappietuit na die riem. Vir Niklaas is Patrys versigtig, nie vir die twee susters nie. Vir hulle ken sy al vandat sy wat Patrys Coetzee is ses jaar oud was. So het hulle haar vertel. Die Coetzees het haar ingeboek omdat haar ma en pa dood is in ’n strafekspedisie op hulle kraal. ’n Wees was sy gewees, sê hulle, maar self onthou sy niks daarvan nie. Sy praat soos hulle en trek soos hulle aan en bly van altyd af by hulle. Sy is geleer om soos hulle te dink. Van ’n kraal weet sy niks nie, behalwe wat hulle haar daarvan vertel het, en dat sy dankbaar moet wees sy het nie daar grootgeword nie.
“Hy het daar aangekom toe ek al uit die water uit was, Ousus,” sê die jongste sag en kyk na die vreemdeling. “Vra vir Patrys.”
Patrys knik.
Die bullebak antwoord nie dadelik nie, want hy sit openlik na Patrys en staar, soos wat hy pas vir die twee susters gekyk het.
’n Mens kan Patrys se ongemak aanvoel. Sy is nie gewoond aan mans wat haar aanstaar nie, veral nie as hulle wit is nie. Sy kyk grond toe – ’n mens moet jou plek ken as jy ingeboek is.
“Wat het jy in elk geval by die wasplek kom soek, Niklaas Opperman?” vra Maria. “Jy weet mos dis die vrouens se wasplek, en mans mag nie daar kom nie.”
Dit is asof Niklaas uit ’n droom uit wakker skrik. “Ek het gesien hierdie vent sluip daar rond.”
“Jy lieg, jy was voor hom daar, ek het jou gesien toe jy van jou perd afklim.”
“Wie gaan jou glo? Jy is ’n meisiekind.”
Maria maak haar oë vir ’n oomblik toe, byt op haar tande en sis: “Die enigste verskil tussen ’n seun en ’n meisie is dat ons die miskruiers is wat julle deur die lewe moet rol – gelukkig agteruit.”
“Maak los die mens, Niklaas, asseblief. Ek vra jou mooi,” smeek Engela.
Niklaas bly sit met ’n grynslag op sy mond. Drie meisies se aandag vly hom. Hy weet hoe kwaad Maria kan word, en hoe kwater sy is, hoe mooier word sy vir hom. Engela, weet hy, raak net stiller. Patrys lyk vir hom skielik begeerlik in haar donker rok, maar dit kan hy nie hardop sê nie. In elk geval, ’n man wys nie vir meisies wat hy voel nie, het sy oupa hom geleer.
Engela kom nader, tot by die vreemdeling. “Ek weet jy het my nie aspris afgeloer nie.” Sy steek haar hand huiwerig na hom toe uit.
Hy kyk af grond toe. “Ek het niks gesien nie, ek belowe. Ek het mos nie geweet jy bad nie.”
“Dit is ons vrouens se plek. Dis vlak en daar is nie krokodille nie. Die seekoeie is ook ver ondertoe in die kuil.”
“Ek het nie lelik bedoel nie.” Hy kyk nie op nie.
“Wat is jou naam?” vra sy.
“Japie.”
“Japie wie?”
“Japie Niemand.”
“Waar kom jy vandaan?” vra Maria.
“Elders.”
“Waar is dit?” vra Niklaas.
“Dit is ons plaas, maar ek weet nie meer watter kant toe dit is nie.”
“Niklaas,” dreig Maria weer, “maak los die riem. Jy kan mos sien jy verwurg hom.”
“Ek kan hom nie los nie, hy is ’n gevaarlike rondloper, en jy weet wat rondlopers aan meisies doen.”
“Dis nie net die rondlopers nie.” Maria kyk die vreemdeling stip aan. “Hy lyk nie vir my gevaarlik nie. Was dit nou nodig om ’n riem om sy nek te gooi?”
“Ek moes keer dat hy weghol.”
“Wat van jou geweer?”
“Jy weet mos dit is gebreek.”
“Jou bloublaser het seker op die klippe geval toe jy wou vlug,” tart sy.
“Die kolf het gekraak, en my pa moet dit eers weer lym.”
Sonder om verder iets te sê, gluur die twee mekaar aan. Asof elkeen oorwoë na ’n woord soek wat die ander so sekuur soos ’n steekassegaai in die hart kan tref.
Totdat iemand van agter die bome besorg roep.
2
“Patrys! Maria! Waar is julle?” Die weduwee Coetzee se bekommerde stem. “Is daar fout?”
“Hier is ons, Ma,” antwoord Maria. “Niks fout nie, net Niklaas Opperman.”
“Wat draai julle so? Julle weet mos ek sal bekommerd raak. ’n Wilde dier of ’n rondloper kan julle iets aandoen.” Die weduwee Susanna Coetzee buk onder die laaste lae takke deur en steek uitasem vas. Verbaas bekyk sy die eienaardige groepie voor haar in die oop kol. Sy trek haar asem in en sit haar hande oor haar mond. Die blou oë rek. “Wat is hier aan die gang?” ’n Mens kan sien sy is die Coetzee-susters se ma, dieselfde blonde hare, fyn wipneusie en die mooi mond en wit tande. Skaars veertig.
“Hierdie man het Engela afgeloer toe sy bad.”
“Niklaas lieg, Ma. Hy het die vreemdeling van agter betrek en sommer ’n riem om sy nek gegooi. As Ma my vra, dink ek Niklaas is kwaad omdat hy nie self kon loer nie. Die vreemdeling was seker in sy pad.”
“Jy praat twak,” reageer Niklaas.
Die weduwee sidder, lyk of sy sitplek soek. “Wie is jy?” vra sy vir Japie toe sy eers haar gevoelens effe onder beheer het.
“Japie, Tante, Japie Niemand van Elders.”
“Wat maak jy hier?”
“Ek vlug, Tante.”
“Sien,” sê Niklaas.
“Wag nou, Niklaas. Vlug vir wie, Japie?”
“Hulle het Ouboet doodgeskiet.” Die snik in Japie se stem en die verwarring in sy oë oortuig Susanna Coetzee daarvan dat sy hom kans moet gee om te verduidelik.
Sy weet wat dood is.
Sy en haar oorlede man het minder as ’n jaar gelede eers op Hier kom bly. Eintlik het hulle toe weer teruggekom. Hulle is vroeër oor die berge; hulle het beplan om op hulle eie ’n bestaan elders te gaan soek.
“Trek net oos oor die berge, see se kant toe, dít is eintlik die beloofde land waarvan hulle ons in die kolonie vertel het,” was die algemeenste raad.
En dit sou seker kon gewerk het, maar só maklik was dit nie, veral nie toe die Engelse dreig om die gebied te annekseer nie. Hulle het dan juis weggetrek om onder die Engelse uit te kom. Toe kom die Coetzees weer terug Hier toe.
Die Hierders was dankbaar, want Pieter Coetzee, het ons geweet, was ’n goeie ystersmid en smede was skaars. Hier het ’n smidswinkel bitter nodig gehad. Voordat hy vir Susanna en die dogters ’n huis begin bou het, het hy die smidswinkel opgesit en met die werk begin. Ons wawiele kon weer draai, stukkende implemente kon weer herstel word. Hy kon selfs gewere regmaak.
Toe, seker so ses maande terug, het rondlopers hom een laatmiddag doodgeskiet toe hy op hulle afkom waar hulle beeste probeer roof.
Die patriarg het ’n kommando bymekaar gekry om die bende te gaan straf en die gesteelde vee terug te kry. Hulle het die spoor gevolg, maar die rowers is anderkant die seekoeigat deur die rivier en die spoor het weggeraak.
Die dood was erg, veral vir die Coetzee-vrouens. Susanna het alleen agtergebly met haar twee opgeskote dogters en Patrys. Sy het nie geweet watter kant toe nie. Eintlik het sy opgehou dink, want die hartseer, het sy gesê, was vir haar te erg. As dit nie vir die drie dogters was nie, weet sy nie mooi nie.
Die