Inboekeling. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.
dat hulle alleen op Hier moet bly. Sy sou wel iemand kry om die winkel vir haar te bedryf. Die gebou was klaar en die gereedskap was hier. Dit was immers haar eiendom.
“Ons moet net ’n goeie grofsmid soek,” het die patriarg getroos.
Waar kry ’n mens ’n betroubare smid? Dit is die probleem met ’n klein gemeenskap soos ons s’n: net een skakel raak weg, en die ketting trek nie meer nie.
“Ma?” hoor sy Maria se stem, en Susanna raak weer bewus van die werklikheid hier om haar tussen die bome.
Toe praat die weduwee Coetzee weer met Niklaas: “Klim van jou perd af, Niklaas. Jy moor die arme man. Maak hom los, hy is nie ’n inboekeling nie. Maak hom los, laat ons hom na jou pa toe vat.”
“Ek sal die lus net bietjie skietgee, ek kan hom nie net losmaak nie, hy sal weghol.”
Dit is asof Japie diep na sy asem snak toe Niklaas die riem se punt laat skiet en Maria tot by hom kom om die lus oper te trek, die knoop weg van sy keel af. Dis al asof die vreemdeling self skugter wegdeins van die meisie af, bang lyk vir almal om hom wat so vreemd is.
Omdat ons op Hier nie juis aan geweld gewoond is nie, is ons ook nie oormatig sku vir mekaar nie. Nou nie dat ons nooit handgemeen raak nie. Ons is ook maar net mense, en ons stam darem uit die harde voorpos uit. Party van ons trek al ’n stuk of tien jaar in waens en tente en onder seile agter ons voormanne se neuse aan. Miskien kom ons ook maar so goed met mekaar klaar omdat ons moet. Dit is ons manier van oorleef, ons voortbestaan waarin elkeen sy eie plekkie verstaan; elkeen pas iewers in die groter geheel van Hier in.
“Ons is soos die miere,” sê die patriarg altyd wanneer hy ’n struweling moet oplos. “Julle het mos al gehoor Meester sê die Woord sê ons moet na die miere loop kyk en wys worre. Julle kan mos ’n kolonie miere, as een die pad byster raak, tou die hele spul agter hom aan en die vet koningin vrek van die honger. Almal is eentlik een, dis hoe miere oorleef.”
“En in die liefde,” voeg die sieleherder se mooi vrou dan gewoonlik by.
Maar Japie Niemand is ’n inkommer, hy sal nie verstaan nie. Sy ontmoeting met Niklaas moes vreesaanjaend gewees het, want as jy Niklaas nie ken nie, gaan jy vir sy manier van doen skrik. Aan Japie se dowwe oë en sy oop mond kan ’n mens sien dat hy iets nie so maklik met sy verstand sal kan uitwerk nie. ’n Mens wonder wat is die seun se storie. Hoe daag hy op ’n dag sommer uit die bloute hier op Hier op? Hy is nog nie eers behoorlik man nie.
“Kom, ons gaan praat met Niklaas se pa,” sê Susanna die weduwee. “As jy op soek is na werk, is hy die regte man, want een van sy volk het juis laas week gedros. Kom, Japie.” Susanna Coetzee beduie hom vriendelik agter haar aan en vat liggies aan die riem.
Maria roep vir Engela, en Engela wink vir Patrys, en hulle volg die ander uit die oop kol uit, deur die plaat bome. Toe lê Hier se opstalle voor hulle, rivier se kant toe. Meer as een werf.
3
Soos wat ’n mens uit die noorde al met die wapad van die dorp af langs suid trek, doem Hier onverwags onder in die laagtetjie voor jou op. Jy is nie eintlik voorbereid op ’n blertsie beskawing nie, veral nie ná ’n paar dagskofte deur die woeste binneland nie. Onverwags, want die steiltetjie noord van Hier versper die uitsig suidekant toe. Eers as jy bo-op die hoogte is, sien jy skielik die opstalle voor jou, die verblindende halfkring wit geboue in die son net wes van die rantereeks aan die oostekant. Asof iemand ’n groot kol tussen die bome met moeite skoongeskoffel het.
Dis eers dan dat jy besef hoe diep Hier se bors in die waai van die rivier in lê; soos ’n blink arm wat die paar werwe omhels.
As jy met jou waens afsak tot onder by die kinkel in die wapad, moet jou touleier skerp links hou om in die grootpad te bly, want reguit vorentoe loop die dunner plaaspad soos ’n slagaar op die verste opstal af. Die ander werfies lê soos ’n hoefyster met sy oop bek wapad toe, binne die halfmaan van die rivier. Op die lip van die hoef is die hoofwerf met die groot woonhuis en die lang stoep.
Uit die reguit plaaspad lei nog smaller werfpaaie na die kleiner werwe, die skoolkamer en die smidswinkel heel voor weerskant van die plaaspad. Dan die waenhuise, melkkamer en die skure. Tussen die geboue voetpaadjies, soos are op ’n oumens se lyf.
Agtertoe waar kallers bulk, is die ronde veekrale met klippe gepak.
Eers as jy naderkom, begin jy besonderhede sien, en jy verstaan dat daar meer as een gesin op die groot werf moet woon. Vyf om presies te wees. Vyf opstalle, en as jy mooi kyk, dan nog die smidswinkel links voor en die klaskamer regs voor soos jy met die plaaspad van die wapad se kant af inkom. Alles witgekalk, spierwit gepleisterde blokke in die son. Soos ’n laer, ja, want meer as ’n eeu se laertrek, bly nie in ’n man se baadjie sit nie.
Agter in die middel, by die hoefyster se lip, lê die groot werf; die patriarg se lang huis met die stoep en die gekruiste houtreling – die enigste stoep met ’n dak oor. ’n Entjie regs daarvan die huis met die groen voordeur en die twee vensters weerskante, die muurhuis van die man wat ons die droëlewer noem, hy en sy vrou, die bullebak en die troppie kleintjies.
Links van die groot opstal die hartbeeshuis van die sieleherder en die skone Katrina, kleindogter van die patriarg. Dan die weduwee Coetzee se laertjie van twee waens, ’n tent en ’n netjiese kookskerm.
Links, heel voor die smidswinkel met sy groot waenhuisdeur. Oorkant die plaaspad, op die ander punt van die perdeskoen is die klaskamer met die vensters wat op alles uitkyk. Weggesteek agter die skooltjie is die eenvertrekhuisie.
’n Mens sal jou maklik kan misgis en dink dat jy skielik op ’n dorpie afgekom het. Soms ry ruiters of waens of perdekarre per abuis reguit met die plaaspad aan, net om agter te kom hulle moes eintlik in die wapad gebly het deur by die kinkel reg oos te swenk, want daarna kronkel die wapad verder deur die poort totdat jy agter die rante in verdwyn om twee uur op ’n klipperige pad later die drif deur te sukkel vir die groot trek terug kolonie toe. Dan eers is jy oor Hier se suidelike grens.
Byna in gelid stryk die klompie aan van die bome se kant af na Niklaas-hulle se huis toe. Die huis skuins wes van die groot opstal, die een met die groentetuin net duskant die oog van die fontein.
Dis die swerm ganse wat die optog se aankoms hees aankondig, en toe weer om die hoek van die huis vlug.
Niklaas heel voor, met Poon se teuels in sy hand, dan die perd, dan Susanna en Japie. Heel agter die drie dogters. Niemand praat nie, in elk geval nie voordat hulle onder die trap voor die witgekalkte huis staan nie. Die groen voordeur is oop en so ook die twee vensters weerskant daarvan.
4
Martiens Opperman moes die optoggie sien aankom het, of hy het die ganse gehoor, want hy kom in die voordeur staan en leun teen die kosyn. Die smal stoep met die vaal kweek tussen hom en die ernstige afvaardiging.
Jakob die hond roer in die skaduwee onder die groot boom aan die suidekant van die huis. Maak eers sy oë oop, hap na ’n lastige vlieg en kyk lui na die mense wat aan’t komme is. Toe eers staan hy langsaam op, gaap en rek hom uit. Dis te warm om te blaf.
Martiens se manier van hang aan die kosyn is vir ons hier op Hier nie heeltemal so vreemd nie. ’n Mens moet darem ook in gedagte hou dat die laaste smous minder as ’n maand terug hier verby is. Gewoonlik hou Martiens se brandewynvoorraad so amper twee maande. Dit is ook al middag, moet ’n mens toegee. As die brandewyn op is, haal Martiens so drie-uur, miskien omdat sy gestel meer gewoond is aan die bessiebier wat hy by die krale ruil; dis nie heeltemal so sterk nie.
Hy sukkel nog om die stookketel op Hier aan die werk te kry, ondertussen doen die seningrige mens niemand ooit enige kwaad aan nie.
Omdat daar niemand in die hele distrik is wat ’n bees ken soos wat Martiens hom ken nie, word hy verduur. Eintlik is verduur ook nie die regte woord nie, want almal weet dat die droëlewer van Hier net vir die vee lewe. Hy is kapabel en pak enige ondier met sy kaal hande as dié sommer vir doodbyt onder die onskuldige vee infoeter. ’n Nuwe kalf het skaars grond geraak, dan weet Martiens al,