Inboekeling. Hans du PlessisЧитать онлайн книгу.
ons gee die man net kans om self te praat, hy lyk nie vir my gevaarlik nie. Verwaarloos ja, maar nie gevaarlik nie.” Die patriarg loop tot voor op die stoep en kyk af op die vreemdeling. “Wie is jy, Neef, en waar kom jy vandaan?”
“Ek, ek is Japie Niemand, Oom, en ek kom van Elders af, Oom.”
“Sonder ’n perd of ’n roer?”
“Nee, ek meen, ja, Oom,” stotter Japie.
“Waar is dié Elders nou eentlik? Ek kan nie so ’n plek nie.”
“Dis ons plaas, Oom, maar ek weet nou nie meer waar dit is nie, Oom.”
“Hoe weet ’n man dan nie waar hy vandaan kom nie, Oupa?” vra Niklaas. “Hy staan vir ons en lieg.”
“Dalk nie, ou seun, hy lyk vir my net erg deur die wind.”
Die patriarg kyk na Japie, staan effens weg van die stoeptrap af en beduie met sy groot hand vir Japie om op te kom stoep toe. “Kom, kom sit hier op die stoep, onderdak uit die son uit.”
Die ander tou agter mekaar die drie stoeptrappies op. Die drie kleintjies gaan op die trappies sit. Jakob die hond plof by hulle voete op die grond neer. Niemand gaan op die groot stoel met die hoë rugleuning en die armleunings sit nie. Hulle weet mos dit is die patriarg se stoel.
“Koffie?” vra Hermaans Opperman, en hy kyk direk vir Japie wat met sy gefrommelde hoed in sy een hand bly staan het. Met die ander hand voel hy versigtig oor sy keel.
“Water, asseblief, Oom, net ’n bietjie water, asseblief, Oom.”
“Windvogel!” bulder die patriarg.
Die stoepdeur links van die voordeur gaan onmiddellik oop, asof Windvogel aan die binnekant daarvan met sy hand op die ronde koperdeurknop gestaan en wag het. Sy oor vas teen die deur. Die inboekeling kom op die stoep uit, glad nie verbaas oor wie almal hier vergader het nie. Hy wag op verdere instruksies van die patriarg.
Windvogel is ’n plomperige seun met ’n uitdrukkinglose gesig. Die lang wit broek en die wit hemp met lang moue beklemtoon die ronde, swart gesig en die ronde hande wat hy langs sy sye hou. Die seun moet nou so dertien, veertien wees. Niemand weet presies nie, maar ’n mens kan dit naastenby uitwerk, want hy moes omtrent sewe gewees het toe die patriarg hom ingeboek het, en dit was sewe jaar gelede, toe ons nog op trek was. Die stamkaptein en die patriarg het destyds ooreengekom dat die patriarg die kaptein se jongste seun sou inboek. In ruil daarvoor moes die ingeboekte van kos en klere voorsien word en vir iets nuttigs opgelei word.
“Leer hom julle taal en kultuur en vaardighede, en stuur hom dan weer terug,” het die kaptein deur middel van sy tolk die onderhandeling afgesluit. Hy het die ronde seuntjie met die stringetjie wit en blou krale om die nek en om die lende onder die magie deur na die patriarg toe gestoot. Die seuntjie het gerem, maar die patriarg het hom ferm aan sy hand vasgehou, terwyl die kind agter sy pa wou aangaan.
Van toe af is hy Windvogel. Windvogel Opperman, as jy besonderhede wou weet. Net so.
Die patriarg moes aan die kind se hand klou, want die mannetjie het geruk en gepluk en geskree totdat hulle hom agter op die wa gegooi het en ’n kombers oor sy kop getrek het.
Nou staan Windvogel in sy netjiese wit hemp en broek op Hier se stoep en wag dat die patriarg verder praat.
“Windvogel, gaan sê bietjie daar in die kombuis lat daar koffie stoep toe moet kom, en bring tog vir die vreemdeling ’n groot kom kou water uit die kleipot uit. Die mannetjie moet behoorlik dors hê.”
Windvogel knik en begin voordeur toe loop.
“Het jy getel hoeveel koffies, skepsel?”
Die ingeboekte glimlag met wit tande, tel met ’n knik van die kop die mense op die stoep. “Ag,” sê hy trots.
“Ek tel nege.”
“Patrys wil nie koffie hê nie.” Windvogel se donker oë versag toe hy na haar kyk. Die byna ongemerkte gebaar in haar rigting en die intimiteit tussen die twee inboekelinge ontgaan nie die skerp oog van die patriarg nie.
Dit is stil op die groot soep, net voëls wat in doringbome op die hitte skel, en die drie kleintjies wat fluister.
Die vreemdeling laat sy hoed sonder meer op die rooi stoepvloer val en gryp die groot tinbeker met albei hande toe Windvogel met die water terugkom. Japie se gesig verdwyn in die beker en net aan die hol gesluk en die beweging van die adamsappel weet die mense op die stoep dat die seun in die beker nog lewe. Hy ruk eers die beker met ’n harde uitblaas van sy asem van sy gesig af weg toe dit leeg is. Toe bly hy verleë staan met die beker wat aan sy oor om sy wysvinger hingel.
Windvogel neem die beker by hom. “Nog?”
“Asseblief,” smeek die vreemdeling.
“Jy moet stadig drink, Nefie,” keer die patriarg en glimlag, “jy kan siek worre as jy nou te veel en te vinnig drink. Gaan haal vir die man nog water, Windvogel.”
Eers toe Windvogel weer die huis in is, praat die patriarg rustig met Japie: “Nou vertel jy vir my presies wie jy is en hoe jy hier gekom het.”
“Ek en Ouboet was op pad niemandsland toe,” begin Japie oorhaastig vertel.
“Stadig nou, Neef. Begin by die begin. Wie is Ouboet? Niemand gaan niemandsland toe vir niks nie.” Die patriarg bly ’n oomblik stil en kyk na Niklaas. “Dis net skelms wat niemandsland toe vlug.”
Japie se twee oë val soos windswaels grond toe. “Nee, Oom, ons is nie skelms nie. Ouboet is Wessel Niemand, my oudste broer. Dan is dit Abraham, en dan ek. Maar ons het nog ’n sustertjie ook, Johanna. Ons woon op Elders.” Japie bly stil om eers weer diep asem te haal.
“Waar is dié Elders wat jy van praat?” vra die patriarg.
Stilte.
“Is dit ’n plaas?” vra die droëlewer.
Stilte.
“Ons moet weet sodat ons jou kan help, Japie,” sê die weduwee.
“Ek sal dit nie weer kan kry nie, Tante.” Japie vee met die agterkant van sy hand oor sy oë, snuif en kyk af op sy stukkende skoene.
Die lang vrou van die patriarg kom by die voordeur op die stoep uit.
“Middag, almal.” In die lang, bruin rok wat tot op haar skoon velskoene hang, lyk sy nog groter as wat sy regtig is. Die grys hare is netjies in ’n bolla agter op haar kop vasgevang. Sy vee die blink strepie sweet op haar bolip met ’n spierwit kantsakdoekie af. Agter haar kom ’n mooi swart vrou by die voordeur uit met ’n bak vol spierwit beskuit. Dan eers moet Windvogel versigtig met die groot skinkbord vol bekers koffie uitmaneuvreer. Dit lyk of sy kort armpies tot op die uiterste moet strek om by die twee handvatsels van die skinkbord by te kom.
Die patriarg se vrou haal die grootste beker van die skinkbord af en oorhandig dit aan die patriarg. Dan gee die mooi swart vrou vir elke gas ’n beker koffie aan. Japie loer eers na die weduwee se kant toe voordat hy die beker vat wat die mooi swart vrou na hom toe uithou.
Die patriarg se vrou lei die mooi swart vrou, Windvogel en Patrys terug by die voordeur in.
Vir ’n rukkie is dit net die geslurp en die hitte op Hier se stoep. Japie kyk na die beskuit, maar niemand dink daaraan om vir hom ook een te hou nie.
“Vertel,” beveel die patriarg en bly sit met die wit beker in sy hand.
Japie soek plek om sy leë beker neer te sit, die water en die koffie moes hom ’n bietjie krag gegee het, want hy staan selfs uit die stoel uit op. Engela vee die klam haarlok van haar voorkop af weg, glimlag effens en neem sonder ’n woord die leë beker by Japie en sit dit langs hare op die lang stoeptafel neer. Japie kyk nie op nie.
“Toe oorval die rondlopers my en Ouboet. Hulle het ons betrek, Oom. Voor ons nog geweet het wat aangaan, het hulle die perde gegryp en toe Ouboet wil skiet, het hulle hom eerste doodgeskiet. Ek kon